Ons Wit Wyne II
- Polfyntjies vir die proe(1963) –C. Louis Leipoldt
- May 22, 2016
- 6 min read

In die vorige stuk het ek Multatuli se gesegde omtrent misverstand aangehaal nie met bedoeling om te laat veronderstel dat dit nie 'n noodsaaklikheid is om misverstand te beveg nie, maar eenvoudig om te beduie dat ek na 'n keurige middagmaal nie genoeg moed gehad het om 'n twisstryd met 'n koppige kêrel aan te vang nie. Ons wynboere behoort, in hul eie belang net sowel as in die belang van die publiek, met moed en samewerking die stryd teen misverstand oor wyn te aanvaar. Die Bonades ten minste sal hulle manmoedig ter sy staan in elke poging om die publiek op te voed en in te lig oor wyn, wit sowel as rooi.
Hier is nou my korrespondent wat vra: ‘Watter soort, watter merk, wit wyn moet ek aanskaf?’ Dis 'n billike vraag wat deur die wynnywerheid beantwoord behoort te word. In Kalifornië het die wynboere en die wynhandelaars saamgespan om die publiek in te lig. Hulle het 'n som geld opsygesit vir stelselmatige propaganda. Daaronder verstaan hulle praktiese voorligting soos bv. die uitreik van wynlyste aan elke biblioteek, waarin die merke, met besonderhede omtrent die spiritusgehalte en die persentasie suur van die wyn, aangegee word. Iets van dié aard het ons hier nodig.
Ek weet van slegs een restaurant in die land wat 'n min of meer volledige lys van inheemse wyne voor sy gaste lê. Selfs hierdie lys is nie volledig nie: 'n paar merke ontbreek, en die inligting wat verskaf word, is nie heeltemal juis nie; is vatbaar vir misverstand. Maar ek sien dat daarop 14 verskillende merke van wit wyne voorkom, en hulle is algar, altans binne die perke waarvan ek in my vorige stuk melding gemaak het, goeie, deeglike, drinkbare wyne. Daar is geeneen wat voor 1938 gemaak is nie; hulle is dus algar betreklik jong wyne, en om die waarheid te sê, byna al die merke wat nou in die handel voorkom, is, hoewel nie juis onryp wyne nie, tog nog jeugdige wyne. Hier kan ek nie melding maak van partikuliere merke nie, om redes wat my lesers goed sal verstaan, maar ek verklik geen geheim nie as ek verwys na die wit wyn van 1931, afkomstig uit die Nuy-plase, wat onder 'n welbekende naam nog 'n paar jaar gelede in die handel beskikbaar was. Dit was een van die beste en geurigste gesnyde wit wyne wat 'n mens destyds kon koop. Vandag is daar eersteklas merke afkomstig uit die distrikte Tulbagh, Paarl, Stellenbosch, Somerset-Wes en die Kaap wat binne 'n paar jaar net so goed sal wees.
My advies aan my korrespondente is: Bestel 'n kissie van elk van die verskillende merke. Sit dit op 'n koel plek in die spens of in die kelder en laat dit in die eerste plaas goed uitrus voordat dit getoets word. Wyn is 'n lewendige ding; dit word maklik moeg. Probeer 'n kelkie uit 'n bottel wat op reis met 'n motor geskommel is en vergelyk dit met dieselfde wyn wat behoorlik in die koelkas stil gelê het vir minstens 'n paar uur. Dit is een rede waarom ons wyne wat op die restaurasiewaens van ons spoorweë gedrink word selde 'n eersteklas indruk maak. Op see is dit iets anders. Daar lê die wyn behoorlik versorg, en die skommel waaraan dit blootgestel word, is minder aanhoudend en prikkelend as op 'n reis oor die gruispad.
Laat die wyn dus rus. Proe dan twee of drie merke, die een na die ander, en proe hulle onder behoorlike omstandighede. Wit wyn verloor baie van sy eienaardige smaaklikheid as hy nie koel op die tong val nie; slegs 'n soet wit wyn wat versterk is, smaak lekker op kamerhitte. Miskien sê die kundige leser dadelik: ‘Ja, maar wat van sjerrie?’ Ekskuus, ek stem saam dat sjerrie 'n uitsondering op die reël is, maar dit is dan ook 'n uitsondering op baie dinge wat van die meeste wynsoorte geld, eenvoudig omdat sjerrie 'n uitsondering op alle wynsoorte is en dus geen vergelyking toelaat nie. Maar drink dus die wit wyn koel; nie juis geys nie, maar behoorlik koel. Skommel dit in die kelkie en ruik daaraan. Die vernaamste toets van 'n wyn van enige soort is die toets met die neus. Daardeur kan 'n mens dadelik opmerk nie net of die wyn geurig is nie, maar ook of dit 'n onbehoorlike reuk het. Daarna die smaak, en nie net die smaak in die mond nie, maar die smaak agter in die keel, waar geur en smaak so te sê saamsmelt en die werklike aroma bespeur word, terwyl die mond nog halfoop is. Daarna weer die afsluk, die so te sê tasbare gevoel van die wyn as mond, verhemelte, tong en slukderm algar saamspan om 'n oordeel te vel oor wat oor hulle gly.
Slegs deur uit te vind watter merk die beste met jou eie smaak akkordeer, kan jy besluit tot die aankoop van wat vir jou die beste merk is. Dit mag nie juis dié wees waaraan vriende en kennisse die voorkeur gee nie, en daarom is dit wenslik om 'n halfdosyn merke vir die kelder aan te skaf. Niemand het nog met sekerheid uitgevind hoeveel tyd ons wit wyne vereis om hul volle rypheid te bereik nie; my eie ondervinding is dat hulle vier tot ses jaar in die kelder kan lê sonder om te versleg, en ek het van oubaas Philip Rabie se wit wyn geproe wat twaalf jaar oud was en nog heerlik genoem kon word. Maar daaromtrent moet ons nog baie meer navorsingswerk doen voordat ons met beslistheid iets kan sê. Die wit wyne wat nou in die handel verkrygbaar is, is nog erg jonk en kan gerus twee, drie jaar in die kelder bewaar word voordat hulle gedrink word.
Ek het begin met te sê dat ons wynnywerheid baie kan doen om die misverstand oor wyne op te klaar. Baie van die publiek het nog nie die minste kennis van wynsoorte nie. Hulle dink byvoorbeeld dat 'n rooi wyn van 'n rooi druif en 'n wit wyn van 'n wit druif gemaak word; dat 'n fonkelende wyn 'n sjampanjewyn is; dat ingevoerde wyne algar minder suur bevat as ons inheemse soorte; en dat die etiket op 'n ingevoerde bottel wyn net so betroubaar is as 'n dividendtjek van 'n goudmaatskappy. Inteendeel. Die fonkel van 'n wyn het niks met sy skuim te doen nie; 'n skuimwyn is 'n wyn waarin die koolsuurgas van 'n tweede gisting nog skuil; dit is nie 'n natuurlike wyn nie, en sjampanje, wat 'n skuimwyn is en heel selde 'n fonkelwyn, is een van die mees gedokterde wyne wat in die handel is. Ons inheemse wyne het minder suur as enige ingevoerde wyn. Die bekende merke van ingevoerde wyne is hoegenaamd geen bewys dat die wyn in die bottel werklik is wat hy voorgee om te wees nie, en die populêrste merke is algar gesnyde wyn. ‘Liebfraumilch’, byvoorbeeld, en ‘Beaune’ is handelsmerke wat nie die betekenis het wat selfs tweederangse soorte besit nie. 'n Rooi wyn word gemaak deur die doppe van die druiwe saam met die mos te laat gis; die kleur sit in die doppe, en daar is net 'n paar soorte druiwe waarvan die sap rooskleurig is (Katalba, byvoorbeeld, en pontak). Dit is algar kleinighede waarmee ons Bonades vanaf ons jeug bekend is. Maar die stedelike jeug weet daar niks van af nie en hulle groei op onder die indruk dat wyn (en hoe min van hulle kry ooit 'n geleentheid om natuurlike wyn te drink) 'n oplossing van spiritus is, gemaak van die druif en uitgevind (tot vloek van die mensdom) deur Noag.
Goeiste, ons wil tog nie hê dat ons kinders opgroei om net soos Brillat-Savarin ‘opgeblase, onkundige, onbeskaafde, onopgevoede, onondervindingryke, grootpraterige’ burgers te word nie! Ek het onlangs 'n koddige wit wyn gedrink, in sekere opsigte baie indiwidueel. Dit het 'n eienaardige geur gehad, so iets tussen dié van suring en roosmaryn. Dit was mooi fonkelend, ‘nat’ wat smaak betref, met 'n ewe mooi bysmaak, baie suur en 'n lae spiritusgehalte - ek sou sê elf persent. Die kleur het 'n liggroen skyn gehad, en ek het sommer ewe wysneusig gedink dat dit 'n farmint-druif se wyn was. Maar dit was nie: Dit was wyn gemaak van wilde druiwe uit die bosse in Knysna, waarvan die korrels so swart en groot is as gros colman en so suur as asyn, met 'n pit wat jou tong brand soos 'n rissie!
Comentários