top of page

Kampkos II

  • Polfyntjies vir die proe(1963)–C. Louis Leipoldt
  • May 26, 2016
  • 5 min read

Op ons veldpieknieks het ons nooit die gewoonte gehad om sop te maak nie. In die jagterskamplewe is sop egter een van die gewildste geregte wat saam om die kampvuur opgeslurp word. Nêrens het ek beter kampsop geproe as in die laeveld op 'n bosveldkamp waar die jagters hul werk goed verstaan nie.

Sulke kampsop is eintlik iets meer as gewone sop. Careme, een van die grootste deskundiges in die geskiedenis van die kookkuns, beweer - en ek dink hy het heeltemal gelyk - dat sop slegs as 'n voorafgaande prikkel vir 'n maaltyd moet gebruik word. Dus behoort dit volgens hom te bestaan uit 'n dun, liefs helder, oplossing van die groente- of vleissappe waaruit dit gekook word. Vleisekstrak het 'n prikkelende werking op die slymvlies van die maag, net soos 'n kelkie goeie sjerrie. Dit bevorder die eetlus en ook die spysvertering, al het dit op sigself geen groot voedingswaarde nie. Jy kan voedingswaarde daaraan gee deur dit te meng met meel, melk, wyn of enigiets anders wat voedingswaarde het, maar 'n oplossing van vleis- of groente-ekstrak is nie eintlik voedsel nie. En as dit met kos aangevul word, soos in dik sopsoorte, dan word dit 'n gereg wat nie slegs as 'n stimulerende voorbereiding vir die maaltyd moet dien nie, maar as 'n gedeelte van die maaltyd self wat dan gebruik word net soveel vir sy koswaarde as vir sy smaaklikheid.

Hierdie beskouing van sop word nie gedeel deur die Chinese kokke nie, wat soms 'n voedsame sopsoort nie voor die ander geregte nie, maar tussenin of daarna bedien. En hulle sou saamstem met my dat 'n jagterskampsop dan ook die geskikste is vir 'n aandete op die ope veld.

So 'n sop kook stadig maar gedurig die hele liewe lange dag. Vroeg in die môre word die groot ysterpot gevul met water. Daarin kom net watter soort groente daar beskikbaar is, gewoonlik aartappels, uie, droë boontjies, lensies of ertjies, en wat daar van die jagtersbuit oorbly in die gedaante van bene, met nog 'n goeie porsie wildvleis daaraan. Sout en peper kom vroegtydig by; ander spesery is daar gewoonlik nie voorhandig nie, ofskoon iemand wat goed bekend is met die boswêreld die kampsop nog baie geuriger kan maak deur byvoeging van sommige van die blare en kruie wat gewoonlik in die onmiddellike omtrek van die kampeerplek ingesamel kan word. Daar groei ook 'n paar wortels wat kan meedoen. Die sop kook stadig en word van tyd tot tyd omgeroer met 'n lepel of 'n skoon stuk doringhout. 'n Beskaafde kok sal ook probeer om die skuim en veral die vet wat bo swem, af te neem, maar dit word volgens my ondervinding nooit gedoen nie, en juis daarom is die resultaat, as jy dit die aand eet, so besonder kragtig en smaaklik. Dit is 'n dik, brei-agtige sop, wat bedien word met die murgbene en die vleis saam, en dit is 'n maaltyd op sigself. Ná 'n kommetjie daarvan is dit skaars nodig om die gebraaide wildvleis, wat gewoonlik daarop volg, aan te raak, want dit is so voedsaam dat niks anders nodig is nie as die gebruiklike ‘aposteltjie’ met die koffie en daarna jou pyp.

'n Ander kampgereg, wat ongelukkig al hoe meer uit die mode raak, is askoek. Dis die ou naam vir enige soort roosterkoek, waaraan reeds baie verskillende name gegee is. Daar bestaan 'n versameling resepte geskryf deur 'n ou tannie in die jaar 1815, die jaar toe hulle Napoleon by Waterloo verslaan het. Waarom ek Napoleon aanhaal, is omdat hy, na bewering van een van sy tydgenote, danig versot was op askoek, wat hy altyd met bok- of hoendervet geëet het, en nogal op so 'n gulsige manier dat hy daarna aan maagpyn gely het. Goed klaargemaakte askoek sal jou nooit maagpyn gee nie as dit behoorlik gekou word. Die ou tannie is dit op hierdie punt met my eens. Sy vertel ons eers dat die meel nie juis gesifte meel hoef te wees nie, maar dit moet ‘nuwe’ meel wees, ‘vers klip gemaal’, waardeur ek veronderstel dat sy gewone boermeel bedoel wat nie reeds deur kalanders bederf is nie. Sulke meel moet jy dan meng met sout en koeksoda en daarna stadig in 'n mengsel van water en melk roer totdat jy 'n bra stywe deeg het, wat onder 'n klam doek kan bly staan, totdat dit tyd is om die askoek te bak. Stukkies deeg word van die klomp afgetrek en plat geslaan tot koekies, ‘omtrent 'n hand-breed groot en 'n duim dik’. Hulle word op 'n laag warm as wat nog hier en daar 'n kooltjie wys, gelê en meer warm as word oor hulle geskraap. Daar moet hulle bly bak totdat albei kante, bo en onder, mooi hard is. Dan neem jy hulle uit, vee soveel van die as weg as wat jy kan en bedien dadelik. Die kampgas sny elke koek oop met sy knipmes - met sy herneuter, soos die oumense dit genoem het - en bestryk die binneste met botter, as hy dit het; as hy dit nie het nie, kan hy sous daarby gebruik.

Teenswoordig gebruik ons die rooster vir askoek, met die gevolg dat ons askoekies nie juis egalig hard gebak word nie, maar dit maak nie veel saak nie. Hoofsaak is dat die buitenste van die koek bros hard moet wees, terwyl die binneste sag, droog en delikaat bly. Sommige resepte sê die deeg moet met melk aangemaak word; dit maak die binneste 'n bietjie klammerig, maar miskien lekkerder. Dit is egter glad nie nodig om vet of eierdooier by te voeg nie, want as dit gedoen word, is die askoek nie meer askoek nie, maar 'n asbolletjie, 'n verfynde iets wat nie goed pas by die kampstemming nie, waar eenvoud 'n belangrike oorweging is.

As nagereg vir 'n kampvuurmaaltyd is daar miskien niks beter as pannekoek nie. Die deeg daarvoor is maklik genoeg om aan te maak: 'n bietjie fynmeel, 'n grypie sout, 'n paar geklitste eiers, en genoeg melk - dit kan blikkiesmelk wees, as daar nie vars melk te kry is nie - om daarvan 'n dun deeg te maak, so dun dat dit maklik van die lepel afdrup. Die pan moet liefs 'n klein pannetjie wees, nie meer as nege duim wyd nie, en die vuur moet goed warm wees. Sit genoeg vet in die pan om die oppervlakte daarvan nat te maak as dit smelt en laat dit goed warm word, totdat dit begin te rook. Plaas dan daarin 'n eetlepelvol van die dun deeg en skud die pan sodat die deeg egalig die hele bodem van die pan bedek. As die vuur warm is, duur dit skaars 'n minuut voordat die pannekoek klaar gebak is, en as die laag deeg dun genoeg is - soos dit dan ook behoort te wees - is dit nie eens nodig om die pannekoek om te keer nie. Die kunstenaar-pannekoekbakker doen dit maklik genoeg, òf met 'n mes òf deur die pannetjie behendig te skud, maar hierdie laaste handgreep vereis kennis en kuns, en as jy nie daarin bedrewe is nie, val die koek gewoonlik in die vuur. Maak jou pannekoek dus dun, so dun as maar moontlik, en wees tevrede as dit op die onderkant mooi goudgeel gebak is. Strooi suiker op en sit dit op 'n bord naasaan die vuur en bedek dit met 'n warm bord. Gaan voort met die goeie werk, en dit moet vinnig, selfs haastig geskied, sodat jy binne 'n kwartier 'n dosyn pannekoeke opgestapel op die bord het. Dan kan jy iemand vra om hulle uit te deel onderwyl jy voortgaan om nog meer te maak. 'n Bietjie neut en kaneel gemeng met die suiker is altyd lekker en as daar stroop of heuning te kry is, pas altwee goed by hierdie eenvoudige kamppannekoek. Jy kan selfs die eiers weglaat, maar dan is dit wenslik om 'n grypie koeksoda by die deeg te voeg, en die moontlikheid is dat die pannekoek dan 'n ietsie taai sal wees.

Comments


RSS Feed

NOU BESKIKBAAR!

Kruie van Toeka tot Nou - DIE BOEK deur Dr. Chris Pitzer is NOU beskikbaar!

Prys: R399 / boek

Koerierkoste in SA: R80

 

Rainbow Gospel Radio

Rainbow Gospel Radio is the Mission Radio for the World.

We currently have listeners in 180 countries around the globe.

Rainbow Gospel Radio broadcasts via the internet and has no demographic restrictions.

Click on the link to tune into Rainbow Gospel Radio.

Why braai alone when you can have fun with family and friends?

Sponsor an Hour

Rainbow Gospel Radio invites you to sponsor an hour and invest in missionary work worldwide. Your contribution will help to spread the Word of God around the globe.

Yummy

Yummy is Rainbow Gospel Radio's recipe group on Facebook.We have more than 15 000 delicious recipes on our blog and if you need a recipe, you can just post in Yummy and admin will gladly provide the link. If we don't have the recipe you are searching for, we will find it for you!

 

The Rainbow Story

A vision from God became a reality....

 

Click on the link to read the Rainbow Story, which includes Nico Liebenberg's testimony and illustrates the amazing grace of our Heavenly Father.

Please reload

New on the Blog

bottom of page