top of page

Kersfeesdranke

  • Polfyntjies vir die proe(1963) –C. Louis Leipoldt
  • May 26, 2016
  • 6 min read

‘Veels geluk’ op Kersfees veronderstel vrolikheid, blydskap, 'n stemming van huislike, gesellige behaaglikheid. Ek erken dit kan heers waar die kos maar skraal is en ook waar daar van drank hoegenaamd geen sprake is nie. Maar ek besef net so goed dat dit makliker te verkry is waar die fees gevier word rondom 'n tafel wat goed bedek is en waar die gasheer daarvoor gesorg het dat daar 'n gepaste hoeveelheid goeie drank voorgesit word.

Ons Bonades is geen afskaffers nie. Ons is gematigde mense, boermense met die wynboer se tradisie, wat gegrond is op die gesegde van ou koning Salomo: ‘Hy is 'n dwaas wat toelaat dat die wyn hom dronkslaan.’ En ons huldig daardie tradisie net so goed op Kersdag as op enige ander dag in die jaar. Ons weet dat wyn tot vrolikheid, tot blydskap, tot gesellige behaaglikheid stem. Die Skrif sê so, en ons gaan daarmee akkoord. As klein boggie het ek oupa Jan gehelp om vier, vyf bottels soet wyn af te tap op Kersfeesoggend. Sulke wyn kry ons ongelukkig nie meer vandag nie, want dit was natuurlike, onvervalste plaaswyn. Ek onthou nog die mooi kleur daarvan. Nie heeltemal rooi nie en ook nie heeltemal goud nie. Die kleur van 'n vuur-opaal, met so 'n nartjieskil-skyn daarin. In die verbeelding kan ek nog sien hoe daar 'n paar druppels aan die kraantjie sit en hoe ek dit versigtig met my wysvinger na my tong neem; en in die verbeelding hoor ek nog Oupa sê: ‘Dis nie die manier van doen nie; jy kry jou kelkie vanmiddag aan tafel.’ Deesdae, ongelukkig, kry ek nooit so 'n kelkie wyn nie. Volgens wet moet ons wynboere hul soet wyn, as dit meer as soveel en soveel suiker bevat, met spiritus sny. Joos weet hoekom, maar so sê die wet, en solank die wet dit sê, sien ek geen kans dat ons, selfs op Kersfees, ooit weer eersteklas soet wyn, so eersteklas soos dié wat my oupa afgetap het, sal kan drink nie.

En tog, soet wyn is so te sê onmisbaar vir die Kersfeesmaaltyd. Dus moet ons maar neem wat ons kan kry, en selfs met die by-gevoegde sestien persent spiritus is daar lekker, drinkbare soet wyne. Hulle is meestal rooi of rooi-geel sterk wyne, van die klas wat ons ‘Ports’ noem, alhoewel hulle nie regtig Portwyn is nie. Hulle is gemengde wyne, soet en swaar, met 'n taamlik hoë gehalte spiritus en selde met 'n buitengewoon goeie reuk, alhoewel hulle soms 'n danig lekker smaak het. As swaar wyn moet hulle met matigheid gebruik word, liefs ná die maaltyd as die koffie bedien word. Dis nie wenslik om hulle vooraf te drink nie.

Geen wynboer sal dit ooit toelaat - as hy 'n goeie wynboer is - dat sy Kersfeesgaste voor die Kersfeesmaaltyd hul smaak en hul aptyt sal bederf met een of ander van die mengsels wat die nuwerwetse mode ‘cocktails’ noem nie. 'n Glasie goeie sjerrie - òf heeltemal sonder soetigheid met die egte bitter ‘neutagtige’ smaak wat die ‘flor’ daaraan gee, òf vir diegene wat meer hou van iets wat 'n greintjie soetigheid besit, die donkerder, soeter soort - is egter iets wat as voorbereiding vir die maaltyd altyd aangeraai kan word. Dit kan selfs by die sop meedoen, veral as dit 'n kragtige vleissop is. Selfs as daar reeds sjerrie in die sop is - en my ou tannie het nooit 'n vleissop vir Kersfees opgedis sonder om eers 'n paar eetlepels goeie sjerrie daarin te gooi voordat die sopkom tafel toe gedra is nie - pas 'n slukkie sjerrie goed daarby. Aangesien ons gewoonlik ons Kersfeesmaaltyd smiddags eet en Kersdag gewoonlik bra warm is, moet ons tafelwyn lig, koel en lekker wees. Daar is nou tal van goeie witwyne waarvan ons gebruik kan maak. Die soorte wat afstam van die Rieslingdruif word as die beste beskou, eenvoudig omdat hulle vandag met 'n bietjie meer sorg gemaak en gesny word. Hulle is die ligste wyne wat in die handel is en kan gerus gedrink word met die meeste skottels wat op die Kersfeestafel opgedis word. Daar word soms beweer dat hulle te suur is, maar hierdie klagte is volkome ongegrond, want ons wit wyne bevat minder surigheid as die meeste ingevoerde wit wyne. Hulle moet so koud as moontlik geskink word. 'n Halfuurtjie in die yskas is die beste manier, maar as daar geen yskas is nie dan kan hulle oopgemaak en dan in 'n nat doek gedraai word en voor 'n oop venster, waar die trek op hulle val, 'n halfuur lank staan voordat hulle tafel toe kom. Wat rooi wyn betref, dit moet nie afgekoel word nie, maar dit kan ook 'n halfuur voor die ete oopgemaak word. Daar is miskien minder wye keuse onder die rooiwynsoorte. Daar is die ligtere tipes wat nagenoeg dieselfde spiritusgehalte het as die wit wyne, en daar is die swaarder Cabernet-tipes, met 'n donkerder kleur en 'n veel beter ruik en meer intensiewe smaak. Sommige soorte wat nou in die handel is, is eersteklas wyne wat nie hoef terug te staan vir ingevoerde tafelwyne nie, en algar is gesonde, onvervalste wyn waarvoor niemand bang hoef te wees nie. Een van die grootste weldoeners van die mensdom, die beroemde Pasteur, het uitdruklik verklaar: ‘Tafelwyn is die beste, die veiligste en die gesondste drank wat iemand kan drink.’ Die Bonades onderskryf daardie oordeel, met die gesag van geslagte se ondervinding.

Wat nou van skuimwyn? Dit is mode in sekere kringe om skuimwyn te presenteer as iets besonders. Die mode is bloot 'n soort snobisme, want skuimwyn is nooit 'n natuurlike wyn nie, en 'n wynkenner sal nooit die voorkeur daaraan gee nie. Sjampanje is 'n ingevoerde skuimwyn, en die namaaksels daarvan wat ons hier kry, kan nie in die verste verte met die ingevoerde ding vergelyk word nie, terwyl ons onder ons eie natuurwyne baie soorte het wat die ingevoerde skuimwyne ver oortref. Mettertyd sal ons waarskynlik 'n skuimwyn kry wat met die Italiaanse skuimwyne - wat egter geen sjampanjes is nie - kan wedywer, maar tot nog toe het ons dit nie. Ons het wel skuimwyne, wit en rooi, wat skuim en waarvoor die wynhandelaars meer vra as vir ander goeie wyne. Ons kan ons rooi en wit wyne meng met bruiswater as ons wil; dit maak 'n gesonde nuttige drank vir diegene wat daarvan hou, en op 'n warm somerdag is so 'n mengsel verfrissend en heerlik. Maar dit is nie die beste manier om wyn aan tafel te drink nie. Net so min gepas is dit om 'n klontjie ys in die wynkelkie te sit.

Vir die ná-gesellighede, smiddags of in die aand, en vir die jonger geslag, wat nog nie die erns van die wyndrink besef nie, kan ons allerlei dranke vervaardig waarin ligte wyn 'n groot rol speel. Die gewildste mengsels is dié wat bestaan uit 'n ligte wyn, vrugtesap, speserye en iets wat aan die mengsel 'n besondere bysmaak of aantreklikheid gee, soos blomme, ryp vrugte of kruie. Sulke mengsels kan soet gemaak word deur byvoeging van suiker, stroop of moskonfyt. As 'n swaarder mengsel verkies word, dan kan 'n bietjie brandewyn of 'n kelkie likeur bygevoeg word, maar dan moet die verbruiker versigtig wees, want so 'n mengsel is uiters verleidelik. My ou tannie het verskillende resepte vir sulke mengsels - wat vir ons jongmense op verjaarsdae en feesdae voorgesit is - in haar handskrif agtergelaat.


Daaruit skryf ek die volgende twee oor: Moerbeidrank: Neem twee koppies vars moerbeie, skoongemaak, en stamp in die vysel met twee eetlepels bruin suiker; gooi daaroor 'n bottel rooi wyn. Roer goed en sit voor die venster (of liefs in die yskas). Vir gebruik, sit in 'n kan en roer 'n grypie neutmuskaat, gemmer en foelie in; gooi ses bottels sodawater oor en bedien in glase met 'n paar moerbeie in elkeen.

Ek sou meer suiker gebruik, maar dit is 'n kwessie van smaak. Dit is egter 'n goeie, plesierige drank en is net so aangenaam vir die smaak as dit vir die oog is. Die ander resep is nie juis vir kinders nie, en is min of meer 'n soort pons wat vir die meeste mense ook veels te soet sal smaak.

Appelkoosdrank: Skil en pit drie dosyn appelkose van middelmatige grootte; kraak 'n halfdosyn van die pitte en neem die wit daarvan, kneus dit en sit by die geskilde appelkose; gooi 'n koppie goeie brandewyn oor; meng met twee koppies wit suiker en klits goed deurmekaar; laat staan 'n paar uur en gooi dan twee bottels wit wyn, 'n koppie gemmerstroop, 'n kelkie Van der Hum en twee kelkies soet wyn oor. Klits weer goed deurmekaar en laat staan tot dit sak. Gooi af sonder om die afsaksel te verroer en meng dit met twee bottels sodawater. Bedien met 'n stukkie ys in elke glas. Dit smaak nog lekkerder as dit van gedroogde appelkose gemaak word.

Daar is 'n menigte sulke vrugte-wyn-mengsels, maar dit is 'n vraag of hulle op die ou end beter is as 'n goeie kelkie wyn op sigself. Daar die gasheer en die gasvrou op Kersdag egter vir algar moet sorg, is dit wenslik dat hulle met die maak van hierdie mengsels goed bekend moet wees. Waar onder die gaste vriende is wat so sterk teen wyn gekant is dat hulle dit selfs op Kersdag nie wil probeer nie, kan die wyn uit sulke mengsels weggelaat word, en 'n skoon vrugte-‘bowle’ vir hulle saamgeklits word.

Comentários


RSS Feed

NOU BESKIKBAAR!

Kruie van Toeka tot Nou - DIE BOEK deur Dr. Chris Pitzer is NOU beskikbaar!

Prys: R399 / boek

Koerierkoste in SA: R80

 

Rainbow Gospel Radio

Rainbow Gospel Radio is the Mission Radio for the World.

We currently have listeners in 180 countries around the globe.

Rainbow Gospel Radio broadcasts via the internet and has no demographic restrictions.

Click on the link to tune into Rainbow Gospel Radio.

Why braai alone when you can have fun with family and friends?

Sponsor an Hour

Rainbow Gospel Radio invites you to sponsor an hour and invest in missionary work worldwide. Your contribution will help to spread the Word of God around the globe.

Yummy

Yummy is Rainbow Gospel Radio's recipe group on Facebook.We have more than 15 000 delicious recipes on our blog and if you need a recipe, you can just post in Yummy and admin will gladly provide the link. If we don't have the recipe you are searching for, we will find it for you!

 

The Rainbow Story

A vision from God became a reality....

 

Click on the link to read the Rainbow Story, which includes Nico Liebenberg's testimony and illustrates the amazing grace of our Heavenly Father.

Please reload

New on the Blog

bottom of page