top of page

Ons Daaglikse Brood

  • Polfyntjies vir die proe(1963) –C. Louis Leipoldt
  • May 26, 2016
  • 4 min read

Nou dat die oorlog verby is, sal ons miskien weer brood kry. Wat ons vandag in die plek daarvan kry, is ... Nou ja, die Bonades is nie geneig om te skel nie, hulle ly liewers in stilte. Sê Salomo dan nie: ‘'n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar 'n wyse bring dit tot bedaring’?

Ek wil maar net sê dat ek tog nog soms goeie brood eet. As my rantsoen petrol dit regverdig, ry ek plaas toe. Tannie beskik nog oor suiwere, egte plaasmeel wat gemaal word in die ou eselmeul - 'n affêre wat nou so skaars is soos 'n meisiekind wat tevrede is met die soort naels wat ons Liewe Heer haar gegee het. En sy - ek bedoel Tannie natuurlik, nie die hedendaagse waboomloogagtige meisiemense nie - sif dit ook soms en kry op dié manier eersteklas fynmeel. Ek weet nie of dit onwettig en strafbaar is nie, maar as ek in haar skoene was, sou ek dit ook doen. Want ek weier eenvoudig om brood van ons oorlogsmeel te maak. Dit is ... maar wat sê Salomo?

Wat is daar tog heerliker, geuriger, gesonder, aantrekliker as nuutgebakte plaasbrood? Met plaasbotter daarop, of sagte vet - ek verkies die pragtige, geelbruin sagte vet wat oorbly nadat 'n spekvet hoenderhen in die braaipot tot 'n geseënde spysoffer gemaak is; dit het 'n smaak wat enig is, en met 'n snytjie biltong daarop - wat op aarde kan die fynste lekkerbek beter kry of verwag? Van gesifte meel is die brood altyd mooi wit; van ongesifte verskil dit van kleur. Tannie s'n is gewoonlik 'n grys-geel, korrelrig, met die kors - aai, die kors! Daarvoor het 'n mens meer as een uitroepteken nodig. Want die kors is tog een van die belangrikste bestanddele van 'n goeie brood. Dit is soms die bros velletjie van 'n geroosterde speenvarkie - of behoort altans so te wees. Helaas, in die stedelike brood wat ons kry, is dit soos ... as ek maar die ou koning se berisping in herinnering kan bly hou. Tannie het haar eie, geheime manier van broodbak, en ek sal dit nie hier verklik nie. Maar eenmaal het ek self probeer om op my eie brood te bak. Die oond was mooi warm, daar was nie onwelkome besoekers in die kombuis nie en daar was 'n kom vol gesifte meel. Vir iemand wat aanleg en sinnigheid vir die bereiding van kos het, was die versoeking alte groot. Ek het amper daaraan toegegee, maar gelukkig is my eerlikheidsgevoel groter, baie groter, as my navorsingsgees. En my beloning vir my bedaarde terugwysing van die duiwel van versoeking het ek dan ook gekry toe Tannie my later gevra het of ek nie vir haar wil wys hoe 'n ‘geleerde kêrel’ brood maak nie. Ek vrees die uitnodiging was ietwat sarkasties, want sy weet goed genoeg dat ek geen ‘slag’ het met koekbak of deeg knie nie. Maar uitdagings moet 'n ridder aanneem, en ek het toe probeer. Die uitslag was nogal eersteklas, en Tannie het my haar kompliment daarop gedoen, ofskoon ek weet dat sy haar eie manier bo myne verkies. Sy sê plaasbrood het geen melk nodig nie, en sy verkies ou suurdeeg bo die handelsuurdeeg wat ek gebruik. Nou ja, elkeen het sy smaak.

Ek neem tien koppies gesifte meel - natuurlik nie gesif uit die gemors wat 'n mens vandag kry nie, maar suiwer plaasmeel - drie koppies melk, vier eetlepelsvol suiker, twee eetlepels gesifte sout, 'n klont botter en 'n koppie warm water. Die melk word opgekook met die suiker, sout en botter, en wanneer dit louwarm is, roer ek daarin 'n pakkie van daardie winkelsuurdeeg waarvan Tannie nie hou nie. Daarna kom die louwarm water, en 'n bietjie klits maak alles mooi deurmekaar. Nou gooi ek die gesifte meel stadig in en roer dit totdat ek 'n mooi deeg het. Hierdie deeg word nou geknie - ek erken dat dit iets is wat ek baie slegter en onhandiger doen as Tannie of selfs aia Rosa, maar dit is onmisbaar nodig - hoekom weet ek eintlik nie. Een van die dae (sodra ek my eie gesifte meel het), sal ek probeer wat gebeur as 'n mens dit bak sonder om te knie. Maar my resep sê: ‘Knie ... knie totdat dit behoorlik sag en mollig is.’ Daarna word dit met 'n klam doek bedek totdat dit behoorlik ‘gerys’ het. Dit duur gewoonlik ses tot sewe uur, en die beste is om dus die deeg in die aand te maak en dit oornag te laat rys. Sodra dit mooi hoog staan, maak dan die brode langwerpig of rond, net na verkiesing, en smeer oor elkeen 'n bietjie botter of vet. Laat weer staan, tot-dat die brood amper twee maal so groot is soos dit uit jou vingers gekom het, en bak dan in die warm oond. My eerste baksel was nie soos Tannie se witbrood nie, maar na my mening was dit eersteklas. Die aia sê dit sou nog beter gewees het ‘as Baas 'n meel-aartappel bygesit het’.

Dit sal ek naastemaal probeer. Maar wanneer is naastemaal? Hoe lank sal die naweë van die oorlog nog voortduur, en wanneer kry ons weer meel om mee brood te bak?

Comments


RSS Feed

NOU BESKIKBAAR!

Kruie van Toeka tot Nou - DIE BOEK deur Dr. Chris Pitzer is NOU beskikbaar!

Prys: R399 / boek

Koerierkoste in SA: R80

 

Rainbow Gospel Radio

Rainbow Gospel Radio is the Mission Radio for the World.

We currently have listeners in 180 countries around the globe.

Rainbow Gospel Radio broadcasts via the internet and has no demographic restrictions.

Click on the link to tune into Rainbow Gospel Radio.

Why braai alone when you can have fun with family and friends?

Sponsor an Hour

Rainbow Gospel Radio invites you to sponsor an hour and invest in missionary work worldwide. Your contribution will help to spread the Word of God around the globe.

Yummy

Yummy is Rainbow Gospel Radio's recipe group on Facebook.We have more than 15 000 delicious recipes on our blog and if you need a recipe, you can just post in Yummy and admin will gladly provide the link. If we don't have the recipe you are searching for, we will find it for you!

 

The Rainbow Story

A vision from God became a reality....

 

Click on the link to read the Rainbow Story, which includes Nico Liebenberg's testimony and illustrates the amazing grace of our Heavenly Father.

Please reload

New on the Blog

bottom of page