Toebroodjies
- Demo Den
- Jul 25, 2016
- 3 min read

Die Engelse woord, ‘sandwich’ kom vermoedelik van die vierde ‘Earl of Sandwich’. Hy was ‘n ywerige dobbelaar en wou nie eens die dobbeltafels verlaat om te eet nie. Hy is toe bedien met vleis wat tussen snye brood geplaas is, sodat hy kon eet terwyl hy besig is.
Vandag nog eet duisende mense daagliks toebroodjies ‘ terwyl hulle besig is’. Dit is ‘n veelsydige, gerieflike en gesonde maaltyd in ‘n pakkie! Perfekte toebroodjies begin by die brood wat as basis gebruik word. Vars brood, verkieslik bruin of volgraan, van goeie kwaliteit en goed deurgebak, is die sleutel tot sukses.
Smeer die botter of margarien egalig tot op die rand van die sny brood. Dit seël die brood en verhoed dat die vulsel die brood sal klam maak. Moet nie die korsies afsny nie, aangesien dit die brood beskerm teen uitdroging.
Toebroodjies kan in grootmaat gemaak, apart verpak en gevries word ( let wel: die vulsel moet dan geskik wees vir bevriesing). ‘n Bevrore toebroodjie wat vroegoggend in die kosblik geplaas word, sal met middagete reeds ontdooi wees, maar nog koel en vars voorkom.
Pak vars bestanddele soos slaai, tamatie en komkommerskyfies apart, vir latere byvoeging by die toebroodjie.
Een brood lewer 16-20 snye en 3-4 brode gebruik ongeveer 500g botter of margarien. Reken op ongeveer 90ml vulsel per toebroodjie. Vulsel moet nie te vogtig wees nie, die brood sal pap word.
Toebroodjievulsels met kaas Voeg enige van die volgende by 125 ml gerasperde kaas:
50 ml geurige blatjang of soet chillisous
50 ml fygekapte olywe, bietjie sagte margarien, sout en peper3
125 ml geroomde maaskaas, bietjie room of sagte margarien, 5-10 ml kerriepoeier en sout
125 ml korrelmaaskaas, 125 ml geroomde maaskaas, gekapte soetrissie (of peppadew) en bietjie gekapte vars kruie
Gebruik enige van die smere alleen of as basis vir ander vulsels soos koue vleis, tamatie, komkommer en slaaisoorte
Toebroodjievulsels met eier Basiese eiervulsel: Meng 2 hardgekookte eiers met 15 ml mayonnaise, ‘n knippie mosterd, sout en peper Die basiese eiervulsel is genoeg vir 2-3 toebroodjies
Voeg een van die volgende by:
60 g ( ongeveer 3 skyfies) fyngekapte ham
2 repies gaar ontbytspek (gekrummel)
50 ml fyngemaakte avokado en 5 ml suurlemoensap
15 ml toebroodjiesmeer en 30 ml fyngerasperde kaas
15 ml mosterdpiekels
60 ml spruite (mungboontjie, alfalfa, ens.)
15 ml gekapte vars kruie (grasuie, pietersielie ens.)
60 ml fyngemaakte tuna en 15 ml toebroodjiesmeer.
30 ml blatjang en 3 ml kerriepoeier.
60 ml van enige gerasperde of gekrummelde kaas van jou keuse
Verskeidenheid toebroodjievulsels
fyngemaakte sardiens, bietjie gerasperde ui, sout en peper, worcestersous en ‘n spatsel tamatiesous saam met gesnyde tamatie, agurkies en slaaiblare.
fyngemaakte gaar hoendervleis en ham, gemeng met mayonnaise en bietjie aangemaakte mosterd op slaaiblare.
gelyke hoeveelhede lewersmeer en maaskaas met sout en varsgemaalde swart peper, bietjie tamatiesous en ‘n spatsel Tobasco.
300g blik soutbeesvleis (verwyder vetlagie), 100 g margarien, 1 gerasperde uitjie, 30 ml fyngekapte soetrissie, 5 ml worcestersous, sout en peper.
Smeer brood met Miracle Whip, plaas dungesnyde komkommerskyfies bo-op, sprinkel fyngesnyde selderyblare oor en geur met sout en peper.
grondboontjiebotter en heuning met piesangskyfies op rosyntjiebrood.
Wenke vir die gebruik van: ‘Ou’ brood Dit gebeur met ons almal….daardie stukkie brood of paar broodrolletjies wat in die broodblik agterbly as almal eerder ‘n stukkie vars brood verkies. Hier volg ‘n paar interressante maniere om ‘ou’ brood te verwerk.
Croutons:
Sny die brood in blokkies, smelt ‘n bietjie botter of margarien in ‘n braaipan en roerbraai die broodblokkies oor stadige hitte tot goudbruin. Bedien saam met sop of strooi oor ‘n gemengde slaai. Bietjie knoffel of gemengde kruie in die botter gee ‘n heerlike geur aan die broodblokkies. (Selfs jou hond sal mal wees oor uitgedroogde broodblokkies met bietjie knoffel by) Melba-roosterbrood: Sny die brood of rolletjies in papierdun snytjies en pak uit op ‘n bakplaat. Plaas in die oond, by 140 grade Celsius en laat liggies rooster en uitdroog tot bros. Draai om indien nodig. Bedien saam met sop, patee of slaai.
Droë broodkrummels:
Breek die brood in stukkies en maak fyn in ‘n voedselverwerker. Plaas die krummels op ‘n bakplaat en droog uit in ‘n koel oond (120 grade Celsius) Roer gereeld om ‘n egalige uitdroging te verseker. Geur die krummels na smaak en bêre in ‘n lugdigte houer tot gebruik. Bv.10 ml hoenderspesery en 10 ml knoffel-en-kruiermengsel op 500 ml krummels. Plaas krummels in plastieksak, doop hoenderstukkies in melk en skud in krummels in plastieksak. Plaas in gesmeerde bakskottel, stip met botter en bak by 180 grade Celsius tot gaar en goudbruin. Gebruik ook krummels vir schnitsel of vir krummelkorse vir sout terte.
Broodpoeding is weer op almal se lippe. Onthou ‘n broodpoeding hoef nie net ‘soet’ te wees nie. Saam met kaas, spek ,uie en tamatie kan ‘n heerlike ligte ete van ‘ou brood’ gemaak word op die broodpoeding styl.
Comments