top of page

CAMINO

  • Danie Pienaar
  • Sep 1, 2016
  • 8 min read

Wat is die Camino? Die Camino de Santiago de Compostela is ’n Pelgrim-staproete van ongeveer 800 tot 1000 km wat strek vanaf verskeie plekke in die wêreld en eindig in Santiago in die Noord-Weste van Spanje. Dis ’n roete wat ontstaan het as gevolg van die Bybelse Jacobus wie se graf in Spanje lê en word jaarliks te voet deur ongeveer 200 000 mense afgelê. Die roete wat ons geloop het begin by St Jean Pied du Port in Frankryk.

Om die volledige omvang van ’n Camino-staptog saam te vat is nie so maklik as wat dit op die oog af klink nie. Nieteenstaande die fisieke uitdaging van so ’n staptog moet die geestelike uitwerking daarvan nie onderskat word nie. Dit mag dalk ondenkbaar klink om so ’n tog aan te pak en vir weke lank fisieke en geestelike uitdagings die hoof te bied, maar die sjarme van die Camino is deesdae onweerstaanbaar weens die “andersheid” daarvan. Dis ’n unieke ervaring vir elkeen wat dit aanpak en elke Pelgrim wat dit voltooi keer terug huis toe met die gevoel dat die einde van die Camino die begin van iets nuut in sy lewe beteken. Vir die meeste mense is die aankoms in Santiago nie so treffend soos die reis nie. Dis vir baie belangriker om te vertrek, eerder as om te arriveer.

Die gedagte om die Camino de Santiago de Compostela te gaan stap het reeds ’n paar jaar gelede by my vroutjie, Susan, ontstaan. Ons is gereelde stappers en ons het verskeie vriende wat die Camino reeds verskeie male gestap het wat ons met ons voorbereiding kon help. Daar is seker baie mense wat ook op hierdie lang staptog wil gaan en hieronder volg ’n samevatting van alles wat ons gedoen het voor en tydens die Camino.

Voorbereiding Ons het die Steenbrasdam-bergpad bo Gordonsbaai hoofsaaklik gebruik as ons oefen-pad. Dis ongeveer 7km lank waarvan die helfte uit ’n stewige bult bestaan. Ons het vir 20 maande hierdie pad twee keer per week gestap en teen die einde van ons oefen-periode het ons dit 3 keer per week gestap. Benewens die Steenbrasdam-pad het ons ook verskeie berge uitgeloop saam met twee stap-klubs. Ons beraam dat ons ongeveer 1 350km gestap het voordat ons die Camino gestap het.

Ons het baie navorsing gedoen oor rugsakke, skoen-tipes en kleredrag en die eerste wat stappers sal agterkom is dat dit ’n duur spulletjie is. Elkeen het ook sy eie opinie en jy moet maar jou eie diskresie gebruik. Die geheim lê daarin dat jy so min as moontlik moet saamneem, eintlik skokkend min. Jou rugsak moet, saam met die water wat jy dra, nie meer as 10% van jou liggaam se gewig wees nie. Dis nie maklik nie, glo my. Jy eindig met een spaar van alles; een spaar hemp, een spaar onderbroek, broek, trui, slaapsak en ’n ekstra paar sokkies. Jou reënjas is uiters belangrik en moet die beste wees wat jy kan kry. Dit is ook die swaarste item in jou rugsak. Sanitêre toebehore bestaan uit ’n tandeborsel en pasta, ’n klein blokkie seep, ’n handdoek, ’n kam en rol-deodorant. Dit is al.

Ek kan met vrymoedigheid getuig dat bitter min van jou voorbereiding jou werklik voorberei vir die Camino, al doen jy watter mate van navorsing. Die Camino is nie almal se maat nie en jy leer soos jy elke dag daarmee vorder.

Vooraf besprekings Behalwe die vliegtuig-besprekings hoef jy nie enige besprekings vooraf te doen nie. Jy kan bloot by die beginpunt opdaag en begin stap. Omdat ons ’n vaste eind-datum (my verjaardag) gehad het, het ons ons hotel in Santiago vooraf bespreek. As jy nie die eerste dag die Pirenese berge volledig wil uitstap nie kan jy by die eerste verblyfplek by Orisson bespreek, maar jy sal dit maande voor die tyd moet doen want dis ’n baie populêre blyplek. Met jou aankoms in St Jean Pied du Port registreer jy by die Camino-kantoor en dan is jy ’n Pelgrim. (Perigreno)

Hoe lyk die pad wat jy gaan loop? Jy kan besluit watter lengte jy gaan stap. As jy vanaf St Jean gaan stap sal jy ongeveer 800km in totaal moet stap. Ons het 38 stap-dae daarvoor beplan. Baie mense het nie so baie tyd nie en stap korter distansies. Sommige stap die hele Camino oor ’n periode van ’n paar jaar. Om ’n Camino sertifikaat te kry aan die einde van die tog moet jy die laaste 100km stap. Die aantal pelgrims vermeerder drasties oor hierdie laaste deel van die Camino. Jy sal op teerpaaie loop, harde gruis, klippe, modder en somtyds baie slegte rotse. Die pad bestaan uit styl heuwels, baie van hulle. En hulle is nie kort nie, sommige van hulle is baie kilometers lank. Die pad word oor die volle lengte aangetoon met kenmerkende pad-tekens en geel pyle wat oral verskyn. In die stede verskyn die Camino skulp-teken op geboue se mure, op die sypaadjies, ligpale en bome. Om te verdwaal is redelik moeilik. Dis ’n lang pad, maak geen fout nie. Die pad is net so lank soos vanaf Kaapstad na Upington. Daar is baie dorpies op die pad, baie van hulle is net 5km uitmekaar. In sommige dorpe woon minder as 50 mense. Jy sal die mooiste plekke sien en die oudheid daarvan kan jou verstom. Jy sal oor brûe stap wat dateer vanaf die vroeë Romeinse tydperk. Jy sal deur bosse en woude stap en deur vele plaaswerwe. Vir kilometers vêr sal jy langs koringlande stap. Jy sal op kastele se mure stap en op donker oggende op kronkel-straatjies van plaveistene. Jy sal vir dae lank langs riviere stap.


Waar jy gaan bly? Jy kan besluit hoe luuks jy wil woon. As jy baie geld het, kan jy in hotelle slaap. Ons het hoofsaaklik in albergues geslaap. Dit kos tussen 5 en 10 Euro per persoon en in sommige gevalle kan jy bloot ’n donasie maak. Jy kan dit maar as klooster-verblyf beskryf. Dis plekke waar pelgrims oornag. Dit bestaan uit groot en klein, nuwe en baie oue geboue met lokale waarin ’n klomp dubbel-bank beddens in staan. Geen beddegoed word voorsien nie. Somtyds is daar min beddens in ’n lokaal, maar somtyds is daar tot 60 beddens in ’n lokaal. Elke dorpie het ’n albergue. Meeste dorpe en stede het ’n paar albergues. Dit neem ’n rukkie om te leer watter albergues vir jou die beste is. Ons het gewoonlik eers gaan kyk hoe dit daarbinne lyk en of daar ’n kombuis is. Dis goedkoper om jou eie kos te koop en dit self voor te berei as om uit te eet. Albergues word deur die staat ondersteun en word bestuur deur tydelike “hospitaliers” wat in baie gevalle uit die dorpenaars bestaan. Sommige albergues word deur nonne of priesters bestuur. Die meeste albergues waarin ons geslaap het, is meer as 300 jaar oud, maar is pragtig gerestoureer. Ons het elke aand warm gestort. Wees maar voorbereid daarop dat daar basies geen privaatheid is nie, mense trek eenvoudig voor mekaar aan. In sommige gevalle is daar geen aparte sanitêre geriewe nie. Albergues is deel van die Camino se karakter en groot vriendskappe word tydens die lekker aande gesmee.

’n Tipiese Albergue


’n Tipiese slaap-lokaal


Wat gaan jy eet ? Min. As jy geld het gaan jy lekker eet. Teen ongeveer R16-50 vir een Euro het ons min ge-eet. Beide van ons het gewig verloor. Die oorweldigende karakter van die Camino is dat jy feitlik altyd honger is. Ons het saans kos gemaak wat ons in die winkel gekoop het. Dit het baie kere bestaan uit slaai, olywe, brood, kaas, blikkie tuna en tamatie. Somtyds was ’n soetrissie ook deel van ons kos. Soggens het ons die dag begin met volroom jogurt en ’n piesang. Ons het altyd piesangs gehad wat op die roete ge-eet is. Wees gereed om baie bier en baie koffie te drink. Bier en rooiwyn is goedkoper as water. Die Perigreno-ete is ’n algemene bestelling en bestaan uit ’n voor-ete, hoofmaal en poeding. Rooiwyn word altyd gratis by etes voorgesit. ’n Perigreno-ete kos egter tien Euro, sowat R165-00. Om self kos te maak kan 3 Euro kos.

Die Spanjaarde maak nie kos met die hart nie hulle kos is gewoonlik bloot sleg en onsmaaklik. Jy sal moet opdok vir lekker kos. Ons kos en drank het meer gekos as ons verblyf op die Camino.

Hoe is die ander mense wat die Camino stap? Met een word : wonderlik. Almal is in dieselfde bootjie. Hulle kom vanoor die ganse wêreld. Jy hoor al die tale en soms is dit Babels. Ons het dierbare vriende gemaak. Saans word by die eettafel gekuier en bedags word almal met ’n “buen Camino” gegroet. Daar is letterlik honderde Perigrenos wat op ’n gegewe tydstip die Camino stap. Somtyds is daar ’n paar van hulle wat saam met jou stap en somtyds stap jy heeltemal alleen. Somtyds sien jy ou vriende elke derde dag en selfs elke derde week weer. Daar word baie gelag en daar word ook gehuil. Die een se pyn is almal se kommer. Ons maak saam kos in die kombuis en ons leer baie van mekaar se land en huise. Uit al die Perigrenos was daar net ongeveer ses Suid-Afrikaners waarvan ons weet. Ons het vir oorlede Tolla van der Merwe se vrou en sy skoondogter (Vickus se vrou) teëgekom. Dis uiters vreemd vir die Perigrenos om mense uit ons land te vind.


Wanneer ons by hoek-kafees gesit het, kon jy die stappers in die dorp of stad uitken aan die manier waarop hulle versigtig geloop het, daar was baie voetblase op die Camino.

Hoe is dit om 800km te stap? Dis ’n geestelike ervaring wat moeilik beskryf kan word. Die gedagte dat jy na drie weke se stap nog 17 dae se stap oor het, kan intimiderend wees. Wanneer jy oor die Maseta stap strek die pad so vêr soos die horison voor jou uit. Daar kom dae wanneer jou lyf nie wil saamwerk nie. Daar kom ’n tyd wanneer letterlik alles seer is. Die toestand van jou voete word ’n primêre saak en jy bestee baie tyd aan die versorging daarvan. Jy plak pleisters bloot ter voorkoming van probleme. Ons het ongelukkig baie mense teëgekom wat moes oppak en moes vertrek omdat hulle liggame ingegee het. Gewoonlik was dit ’n emosionele oomblik om te groet. Ons was gelukkig om nie voetprobleme op te tel nie. Ons het aanvanklik vêr geloop op ’n dag, maar omdat ons ons beplande rusdae uitgeskakel het, kon ons die stapdistansies verminder na 15 tot 25km per dag. Party mense het veel-verder gestap en somtyds die prys daarvoor betaal. Na die eerste drie dae het ek my peperduur skoene aan die voete van een van die vele kruise langs die pad neergesit. Ek het 350km met hulle gestap in Suid-Afrika net om te ontdek dat hulle nie geskik was vir die Camino nie. Ek het nuwe skoene gekoop wat pragtig gestap het. Ek was nie alleen met my skoene nie en ons het vele ander skoene by kruise gesien lê. Alhoewel ons bitter min klere saamgeneem het, het ons na vier dae twee kilogram se klere per pos aangestuur na Santiago. Soos die kilometers verbygaan word jou liggaam sterker en die heuwels word makliker. Die aankoms in Santiago was vir ons ’n groot oomblik en die trane het vryelik gevloei.


Teen een van die steil bulte af na ’n oornag-dorpie


Een van die klein dorpies met ’n groot kerk


Besig om oor die Pireneë-berge te stap


Moet jy dit gaan stap? As jy die grootste enkel-projek van jou lewe wil aanpak, ja. Ek aanvaar dat baie van die Perigrenos verskeie redes het waarom hulle die Camino wou loop. Elkeen het ’n eie verhaal van pyn, vreugde, rou en kommer en dalk is die Camino die plek om dit te gaan uitwoed. Ons het nie so iets gehad nie en dit was bloot ’n begeerte van my vroutjie om die pad te gaan stap. Sy was ’n yster en my grootse hulp op die roete. Dink gerus oor die Camino. Jy hoef dit nie op een slag te voltooi nie, ook nie volledig te stap nie. Dis baie duur om tot daar te kom en dit sou goed wees as jy dit op een slag kon voltooi. Maar as jy besluit om te gaan, wees verseker van een ding : dit SAL jou lewe verander.



Comentarios


RSS Feed

NOU BESKIKBAAR!

Kruie van Toeka tot Nou - DIE BOEK deur Dr. Chris Pitzer is NOU beskikbaar!

Prys: R399 / boek

Koerierkoste in SA: R80

 

Rainbow Gospel Radio

Rainbow Gospel Radio is the Mission Radio for the World.

We currently have listeners in 180 countries around the globe.

Rainbow Gospel Radio broadcasts via the internet and has no demographic restrictions.

Click on the link to tune into Rainbow Gospel Radio.

Why braai alone when you can have fun with family and friends?

Sponsor an Hour

Rainbow Gospel Radio invites you to sponsor an hour and invest in missionary work worldwide. Your contribution will help to spread the Word of God around the globe.

Yummy

Yummy is Rainbow Gospel Radio's recipe group on Facebook.We have more than 15 000 delicious recipes on our blog and if you need a recipe, you can just post in Yummy and admin will gladly provide the link. If we don't have the recipe you are searching for, we will find it for you!

 

The Rainbow Story

A vision from God became a reality....

 

Click on the link to read the Rainbow Story, which includes Nico Liebenberg's testimony and illustrates the amazing grace of our Heavenly Father.

Please reload

New on the Blog

bottom of page