Boekrak: Monochroom Reënboog - Andrè Fourie
- Cornè Liebenberg
- Nov 10, 2016
- 3 min read

MONOCHROOM REENBOOG DEUR ANDRÉ FOURIE
Baie mense mag wonder: “Wat is lewensgetrou?” Tereg ook. Met hierdie boek poog die skrywer om so “lewensgetrou moontlik” ‘n prentjie te skets van ‘n bepaalde omgewing tydens die 1960’s en 1970’s in Suid-Afrika – gesien uit die oogpunt van ‘n Afrikaanse seun. Dit is belangrik om daarop te let dat daar destyds, soos vandag, ‘n veelvoud van omgewings was met verskillende belewenisse daarvan. Hierdie boek probeer om een so ‘n belewenis uit te lig. Daar mag woordkeuses wees wat gaan seermaak en ontstel, maar wat na die skrywer se mening belangrik vir die konteks is waarbinne dit gebruik word. Uit die staanspoor wil die skrywer dus verskoning vra vir taalgebruik wat selfs teen sy eie beginsels indruis.
‘n Groot gedeelte van die boek is op ware gebeure gebaseer, maar om die identiteit van persone te beskerm, is name en heel dikwels konteks verander en ‘n goeie skeut fiksie is bygevoeg.
——————————————–
REËNBOOG TE KOOP
INTERNASIONAAL: Beskikbaar as e-boek en slapband by Amazon, Smashwords en Createspace
SUID-AFRIKA: Doen navraag by enige boekhandel en vra dat die boek bestel word as dit nie in voorraad is nie. Dit is tans beskikbaar by Protea en Exclusive Books. Ook as e-boek beskikbaar by (onthou om die deelteken op Reënboog te sit of tik net Monochroom) Kwarts Uitgewers en Takealot (Kalahari.com).
KONTAK DESIRÉ HURST AS JY NIE REGKOM NIE. Sy kan vir jou ‘n boek na ‘n adres in Suid-Afrika pos (R200 insluitend posgeld). Sel: 082 871 8028. Tel: (012) 345-5541. E-pos: mikedes@mweb.co.za Ek kan ook gekontak word per E-pos.
——————————————————————
BLOEMFONTEIN COURANT
SKRYWER DEEL HEIMWEE NA GEBOORTEDORP
Maricelle Botha
July 22, 2015
Wat aanvanklik begin het as die neerskryf van ‘n paar gedagtes om oud-Bloemfonteiner André Fourie se verlange doer ver in Engeland so bietjie te sus het uiteindelik in sy eerste roman verander. Fourie was verlede week een van die skrywers wie se werk, onder meer sy nuutste roman Monochroom Reënboog, by die Vrystaat Kunstefees se Boekefees bespreek is.
“Die aanvanklike storietjie wat veronderstel was om die heimwee ‘n bietjie te verlig het toe later uitgebrei na die boek en uiteindelik moes ek so bietjie skaaf om dit weer korter te maak,” vertel Fourie kort voor hy weer huiswaarts keer.
Die hele verhaal strek oor ‘n tydperk van 10 jaar – van 1966 tot 1977. “Ek moes heelwat navorsing doen om my feite reg te kry, veral omdat ek werklike gebeure uit die verlede gebruik het as verwysing.” Fourie vertel musiek speel ook ‘n belangrike rol in era-vaslegging.
Die storie begin met Abrie wat 10 jaar oud is, verloop deur sy tienerjare, sy weermagjare en dan sy traumatiese ervaring van die eertydse bosoorlog in Angola. Die verhaal beklemtoon die hoofkarakter se verhoudinge met mense van verskillende rassegroepe.
“Wat ek daarmee wil aandui is dat daar uitstekende menseverhoudinge was, nie soos dit altyd uitgebeeld word nie, dat die apartheidsjare slegs ‘n drakoniese tydperk was nie. Natuurlik maak ek melding van die slegte tye, want daarvan was daar beslis ook.”
Fourie het die roman aan twee uitgewers voorgelê en hulle het belangstelling daarin getoon, maar het aanbeveel dat hy ‘n paar dele daarin sensor. Fourie het volstrek geweier. Hy wou seker maak die leser word totaal weggevoer na die dekade waaroor hy skryf. “Die leser moet teruggevoer word na die sestigerjare en eers uit daardie era klim as hy die boek toemaak.”
Die titel Monochroom Reënboog verwys na ‘n reënboognasie in die tydperk van monochroomfoto’s asook na die feit dat Suid-Afrika se reënboog deesdae ook maar ‘n bietjie vaal lyk met geringe blertse van kleur soos destyds, dikwels in skakerings van swart en wit is .
Fourie het in Hospitaalpark grootgeword en aan die Hoërskool Jim Fouché gematrikuleer. Hy het deeltyds op die Bult geswot en sy weermagjare onder meer by Tempe deurgebring. “Ek is in Bloemfontein getroud en my eerste huis was in Langenhovenpark. Dit is waar my hart is.”
Toe hy sy werk in 2002 verloor het hy besluit dit is tyd vir ‘n gesinsavontuur. “Ons het letterlik ons deure gesluit en gegaan,” vertel hy. Nou, 13 jaar later, is hulle Britse burgers, maar “ek moet beklemtoon dit is net ons lywe wat daar is. Ons hele hart en siel is hier.”
Wat kan ons in die toekoms van Fourie verwag? Hy werk tans aan ‘n reeks kortverhale van drie ou manne. “Dit handel oor ou manne – soos ek – wat bymekaarkom op Saterdae en dan sit en gesels oor enige ding en alles.”

Comments