‘n Skaapribbetjie moet mens met respek behandel
- Adriaan J Louw van die Karoo
- Nov 29, 2016
- 2 min read

Kyk, ‘n skaapribbetjie moet mens met respek behandel. Moenie met allerhande fieterjasies by hom kom nie. As jy hom neergelê het op die vleisblok, kap jy die beentjies deur ál in die middel langs in die dwarste met jou byl. Dan kap jy die dikrib kant ook op so twee, drie plekke deur, dat hy nou nie loop staan en opkrul wanneer jy hom braai nie. Draai hom dan om, velkant bo, en sny hom kepies kruis en dwars met jou vlymskerp vleismes. Dan vryf jy hom in met ‘n bietjie sout, peper en koljander (wat jy self gemaal het met jou meultjie – ai, die geur van varsgemaalde koljander!) en, les bes, ‘n skeutjie bruin asyn. Dan los jy hom om te rus. Vanaand, as die son reeds water getrek het en die skemerte toesak, gaan sit jy jou ribbetjie daar in die asbosskerm op die vygiebosstompies se kooltjies. (dit is nou as jy in die Groot Karoo bly)
Kort voor lank hoor jy ‘n jakkals tjank in die verte wanneer die geur van jou ribbetjie optrek in sy neusgate. Wanneer jou ribbetjie gaar is ( jy sal weet wanneer) maak jy hom uitmekaar met jou knipmes, sommer daar op die rooster. As die maanlig weerkaats op die vet om jou mond, sit jy behaaglik terug, en verlang na mense wat jy glad nie eens ken nie! Al geluid wat jy dan hoor is die gekraak van bene, soos die honde die kaal afgeëte ribbebeentjies lê en kou. En as jy dalkies ‘n ou drinkdingetjie ook byderhand het, sing jy lankvergete liedjies. Tá Hessie se witperd, Ou Kalahari, Tá Antjie ruik na gom en diesulkes.
Wanneer dit begin lig word aan die Oostekant, blaas jy die kole bietjie aan, sit nog ‘n vygiebosstompie op, en skuif jou koffieketeltjie nader. Wanneer die stoom staan by sy tuit, gooi jy ‘n trekseltjie moerkoffie by en kort voor lank skink jy jou blikbeker g’lykvol, ‘n lepeltjie suiker by, en as jy hom geroer het, knyp jy jou oë stok toe terwyl jy die warm koffie behaaglik oor jou lippe suig.
Dis die lewe.
Comentarios