JESUS MAAK DIE TIEN GEBOOIE MAKLIK OM TE ONDERHOU
- Nico Liebenberg
- Jan 3, 2017
- 3 min read

Die Tien Gebooie word in Eksodus 20:1-17 uiteengesit:
Omdat Jesus Christus vir ons die wet volkome vervul het, word dit vir ons baie maklik om die Tien Gebooie te onderhou, omdat ons Jesus Christus as Redder en Saligmaker aanvaar het.
EERSTE GEBOD
Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
[ 1ste gebod ]
As Jesus die eerste plek in jou lewe inneem, sal jy geen ander gode sal wil dien nie- Jesus sal die eerste en ereplek in jou lewe he.
TWEEDE GEBOD
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.
[ 2de gebod ]
As Jesus in jou hart is, sal jy geen gesnede beelde wil maak nie. Dit sal nie nodig wees nie, want jy sal self Jesus se beeld dra.
DERDE GEBOD
Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
[ 3de gebod ]
As jy Jesus liefhet, sal Jesus se Naam nooit as 'n vloekwoord oor jou lippe kom nie, maar in alle omstandighede deur jou in ere gehou sal word.
VIERDE GEBOD
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie -- jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
[ 4de gebod]
As Jesus die ereplek in jou lewe het, sal Sondag die hoogtepunt van jou week wees. Dit sal vir jou 'n vreugde wees om kerk toe te gaan - 'n dag om nie teen op te sien nie, maar na uit te sien!
VYFDE GEBOD
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.
[ 5de gebod ]
As Jesus sentraal staan in jou lewe, sal dit vir jou 'n voorreg wees om jou ouers te eer en lief te he. Dit sal nie vir jou moeilik wees nie, want agter hulle sal jy vir Jesus sien wat hulle vir jou uitgekies en geleen het.
SESDE GEBOD
Jy mag nie doodslaan nie.
[ 6de gebod ]
Met Jesus in jou lewe, sal jy nooit iemand wil seermaak nie, wat nog te se doodmaak!
SEWENDE GEBOD
Jy mag nie egbreek nie.
[ 7de gebod ]
As jy Jesus liefhet, sal dit nie moeilik wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. Gee vir Jesus plek in jou huwelik en Hy sal julle liefde vir mekaar en julle geluk in Sy hande bewaar en vashou.
AGTSTE GEBOD
Jy mag nie steel nie.
[ 8ste gebod ]
As Jesus op die troon van jou hart sit, sal jy nie daarop ingestel wees om iets van ander te neem nie. Jy sal daagliks vra: Aan wie en waar kan ek aan 'n ander iets GEE? Maar neem? Nee, nooit ... !
NEGENDE GEBOD
Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. [ 9de gebod ]
Met Jesus in jou lewe, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van 'n ander kwaad te praat nie. Jesus sal deur Sy Gees, jou 'n lojale mens maak, wat van ander geen woord sal se, as dit nie iets goed kan wees nie.
TIENDE GEBOD
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
[10de gebod ]
Jesus, sal jou deur Sy Gees so vul met dankbaarheid, dat jy niks meer sal begeer nie. jy sal vergenoeg wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat Hy dit nodig vind en as Hy gee, gee Hy altyd genoeg, sodat niks jou sal ontbreek nie.
Comments