BEDELAAR SE BUURVROU
- Lappieskombers
- Jan 11, 2017
- 3 min read

Ons Afrikaners is baie bekend daarvoor,dat ons kla met die witbrood onder die arm. Ek kan die mooiste motor hê, maar as dit nie ʼn beter motor as my buurman s’n is nie, is ek ondankbaar. As ek nie die duurste paar skoene in die winkel het nie, is ek ondankbaar, of as ek nie die nuwe selfoon, waaroor ek al lankal droom, kan bekostig nie, dan is ek ondankbaar. Vanoggend stop ek gou by Sasol, ons melk is klaar, en ek het vergeet om te koop. Natuurlik was ek so vies vir myself, want nou moet ek nog dubbel die prys betaal, wat ek normaalweg sou betaal. Ek koop die melk, en besluit toe om sommer ʼn Sasol koffie ook te koop.
Skielik praat hierdie Stem met my, (wat ek baie goed ken, en baie goed weet waar dit vandaan kom.) “Sien jy vir Christo hier buite, koop vir hom ʼn koppie kofiie, en sommer ʼn toebroodjie ook “, sê die welbekende Stem vir my. Nou Christo, is ʼn jongman by ons, wat op die straat woon, en wat menigte inwoner al tot raserny gedryf het, met sy aanmerking en opmerkings, wanneer hy op een van sy “trippies” is. Ek dink toe so by myself, goed as hy nog hier is, as ek my koffie klaar gemaak het, dan sal ek dit doen. Terwyl my koffie in die koppetjie inloop, hou ek hom dop, en kyk of hy nog hier rondhang. Na my koffie klaar gemaak is, sien ek, nee hy is nog hier. Laat ek dit maar doen…wat gaan ek verloor daardeur. Ek maak sy koffie, kry sy broodjie en betaal by die toonbank.
Ek stap uit en gee dit vir hom. En op daardie oomblik, word ek gevul met die snaakste emosie, wat ek nog ooit ervaar het. Ek weet nie watse naam om daaraan te heg nie, dis ʼn kombinasie van jammerte,deernis,dankbaarheid,skaamkry en so lekker warm gevoel om my hart. Jammerte en deernis vir hom, wat elke nag hier onder sy kombers moet lê en slaap, terwyl ek ʼn lekker warm bed het. Deernis omdat hy soms moet smeek vir iets om te eet, en ek elke aand kos het. Deernis, omdat hy ook maar net ʼn mens is, met emosies, drome en begeertes. Dankbaarheid, omdat ek soveel het om voor dankbaar te wees, dankbaarheid omdat ek ʼn dak oor my kop het. Ek kry skaam,omdat ek al hoeveel keer verby hom geloop het, sonder om sy nood raak te sien, skaam omdat ek al hoeveel keer, mense soos hy probeer vermy het, skaam omdat ek hoeveel keer gedink het, ek is beter as hulle. Die warm gevoel in my hart, is daar, omdat ek iets vir iemand kon beteken, dat ek vanoggend gehoor gegee het, en sy nood kon verlig, sy las kon help dra.
Terwyl ek van hom af wegstap, vra ek groot omverskoning vir my gedrag. Ek vra omverskoning, omdat ek so baie het om voor dankbaar te wees, maar nog steeds kla ek. Ek vra omverskoning omdat ek nie dit wat ek het, wou deel met die wat nie het nie. Ek vra omverskoning omdat ek gedink het ek is beter, as die wat op die straat bly. Maar die belangrikste ek vra omverskoning, omdat ek so groot Fariseër is. Ek dink terug aan die verhaal in die Bybel, wat Jesus vertel het, oor die Fariseër en Tollenaar wat gebid het. Die Fariseër, wat gesê het: “ Dankie dat ek nie is soos ander mense is nie.” En ek besef, is dit nie maar hoe ek ook is nie, is dit nie hoe baie van ons is nie. Ons sê so baie ek is dankbaar dat dit nie ek is nie, dankie tog, dat ek darem nie so lyk nie.
En net daar vra ek omverskoning, en ek vra soos die tollenaar nederig: “Vader wees my sondaar genadig!” Want ek besef, as dit nie vir Sy genade was nie, was ek dalk Christo se buurvrou!
Comments