DIE SKEPPING KREUN
- Lappieskombers
- Jan 26, 2017
- 2 min read

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ʼn plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werke van u hande.
Psalm 8:4-7
Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here, want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê en dit stewig gevestig in die waters.
Psalm 24:1-2
Gedurende die afgelope jaar het die mensdom seker van die ergste natuurrampe in menslike heugenis ervaar wat ons ergste vrese oor klimaatsverandering bevestig. Wanneer ons die ongebreidelde uitbuiting van die aarde aanskou, weet ons dat niks meer heilig is nie en dat agting vir die lewe self ten gronde gegaan het. Die getal plant- en dierespesies wat jaarliks uitgeroei word, die vernietiging van die reënwoude en die besoedeling van ons waterbronne bedreig die voortbestaan van talle mense en diere en dui op ʼn diepgewortelde ongeërgdheid oor ons “moeder”, die aarde.
Hoe keer ons hierdie agteruitgang? Dit lyk nie of daar veel is wat die gewone mens kan doen nie behalwe om die natuur te sien deur God se oë en te ontdek dat alles heilig is. Vir ons as aardbewoners wat die aarde hoor kreun “Genoeg is genoeg!” lê die uitdaging daarin om dit wat ons as sielloos beskou, te heronddek en te respekteer. Respek vir die skepping is een van die boustene vir ʼn beter samelewing. ʼn Filosoof en skrywer het eenkeer gesê: Alles het ʼn innerlike, ʼn misterie, ʼn eie gees. Om dit te ontken beteken om die orde in die skepping te ontken. Albert Schweitzer, die groot filantroop, teoloog en medikus wat lank in midde-Afrika gewerk het en respek vir die skepping as basis vir sy filosofie beskou het, skryf: “Respek vir alle dinge kweek respek vir die lewe. Deur alles op die aarde te respekteer, eer ons die Skepper van die heelal.”
Selfs as jy magteloos voel te midde van die aarde se eksistensiële krisis, staan vir ʼn oomblik stil en dink aan die skepping wat God daar gestel het, en herinner jou daaraan dat Hy dit aanmekaar geweef het met die oog van ʼn kunstenaar, ʼn natuurwetenskaplike en versorger. Daarmee saam het Hy elkeen van ons aangestel as bewakers van sy tuin en alles wat daarin woon.
Gebed: My gebed is vir die aarde en alles wat daarop is. Gee dat die mens die aarde sal erken as U geskenk aan die mensdom. Vergewe my wanneer ek sonder om te dink meedoen aan die vernietiging van die omgewing. Amen
Comments