KIES REG
- Blessings op my Tablet - Gerda Jansen
- Jan 30, 2017
- 2 min read

Teksvers:
Deut 30:19
“Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”
God het elkeen van ons die vryheid gegee om te kies. Adam en Eva het getwyfel in die tuin van Eden en gekies om vir die slang te luister, hul het ‘n verkeerde keuse gemaak en moes die gevolg daarvan dra: sonde.
Moses moedig die volk aan om God te kies, sodat hul kan lewe. Die duiwel weet hoe om sonde aanliklik te laat lyk. Hy kan jou laat glo dat jy sekere goed in hierdie wêreld moet hê. Die nuutste foon, klere en skoene. Maak nie saak wat die prys is nie. Dan begin jy jou ouers oortuig dat jy dit moet hê. So kies jy ook om goed te doen, om “in” te wees. As almal dit doen, moet dit seker ‘okay’ wees. Maar wat sê God: Hy sê jy moet Hom eerste kies.
Sonde lyk lekker, maar die uiteinde is dat jy skuldig voel en vêr van God. En op die ou einde lei dit tot die dood. Jy kan uitmis op die Ewige Lewe omdat jy heeltyd verkeerd kies. Maar hierdie deel gaan die wêreld en Satan nie vir jou wys nie.
Soms leer ons op die harde manier. Dit maak dat ons seerkry. Adam en Eva het die leuen geglo dat hul soos God sal wees. Ons kies sekere goed omdat ons dink dat sal ons sterk en ‘cool’ sal wees. Maar op die ou einde skei dit ons van God.
Voor jy enige besluit maak, maak seker wat die resultaat gaan wees. Lewe of Dood. Ja, Jesus het vir sonde aan die kruis gesterf, maar dit beteken nie dat ons kan doen wat ons nou wil nie.
Kies om gehoorsaam te wees aan God en dit wat ons leer in Sy Woord. Jou voorbeeld kan ander lei na God of die hel. Jou keuses beinvloed met ander woorde nie net jouself nie, maar ander rondom jou. Dit beteken dat jy soms tevrede moet wees met wat jy het, en nie die beste en nuutste begeer nie.
Comments