NADER TOT GOD ... IN DIE WAGTYD
- Lappieskombers
- Feb 5, 2017
- 2 min read

Verskeie luisteraars het oor die afgelope paar dae dieselfde vraag gehad: “Hoe bly ’n mens positief in die wagtyd op ’n deurbraak? Hoe verhoed jy dat jou geloof skade ly?” Vandag wil ek ’n analogie met jou deel wat jou hopelik in die wagtyd sal bemoedig met die wete dat God elk van jou gebede hoor.
Die analogie: Verbeel jouself vir ’n oomblik jy hou ’n plastiekbottel met donker, swart water in jou hand vas. Dít verteenwoordig daardie magtelose situasies in ons lewens wat soms dreig om ons te oorweldig.
Haal nou die prop af. Op dieselfde manier moet ons die beperkinge op God en wat Hy in ons donker situasies kan kom doen, afhaal terwyl ons onsself herinner dat Hy in staat is om veel meer te doen as wat ons kan bid of dink.
Sit nou die bottel water sonder ’n prop in ’n wasbak en draai die kraan oop sodat die skoon water van bo-af in die bottel met die swart water begin inloop. Dít is wat gebeur die oomblik as ons oor ons uitdagings begin bid. Ons laat toe dat God sy krag in ons donker situasies laat “inloop”. Aanvanklik bly die water op die oog af donker ten spyte van die skoon water wat inloop. Dít is dieselfde in ons wagtyd. Ons sien nie onmiddellik ’n verskil nie en daarom twyfel ons of God ons gebede hoor. Die waarheid is egter, as die skoon water aanhou om in die bottel met vuil water in te loop, gaan ’n oomblik aanbreek waar die skoon, vars water die donker vuil water totaal uit die bottel druk. Dít is die oomblik waarin ons ’n skielike deurbraak beleef. Waar God sy krag tasbaar aan ons openbaar.
Wat is vandag jou uitdaging? ’n Finansiële krisis, ’n ongelowige huweliksmaat, jou begeerte na ’n baba, ’n werksgeleentheid, gesondheid, die herstel van jou huwelik, genesing van ’n verslawing?
Onthou, in Openbaring 5:8 lees ons dat God se engele die gelowiges se gebede op aarde bymekaarmaak en dat dit soos reukoffers voor sy troon opgaan. Hy hoor dus al ons gebede. Soms moet ons net ophou om in ons eie krag te veg. In Psalm 46:11 lees ons immers: “Julle moet ophou veg, julle moet weet dat Ek God is, Ek is hoog bo die volke, hoog bo die aarde” (Die Bybel vir Almal). Ook in Efesiërs 3:20-21 lees ons: “Hy (God) gebruik sy krag in ons. Hy kan baie meer doen as wat ons dink of vir Hom vra. Almal moet Hom, ons Koning, altyd prys. Amen.” (Die Bybel vir Almal)
In die wagtyd leer ken ons God se karakter die beste omdat dit ’n tyd word waarbinne Hy ons karakter toets. Kom ons slaag die toets en hou aan bid al voel die water of dit swart bly. Daardie oomblik waarin die water silwerskoon in die bottel word, is dalk baie nader as wat jy dink. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my huidige situasie en ook my toekoms. Help my om nie moed te verloor as die deurbraak ’n bietjie langer neem as wat ek op gehoop het nie, maar om myself te herinner dat U in beheer is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Comments