NADER TOT GOD IN JOU VREES
- Lappieskombers
- Feb 16, 2017
- 3 min read

[Een van die luisteraars skryf in verlede week ’n e-pos met die woorde: “Ek is in Januarie vanjaar in my huis met ’n tuinvurk aangeval en vir dood agtergelaat. Die Here het egter my lewe gespaar. Tans leef ek in vrees dat die aanvaller mag terugkom. Ek is selfs te bang om uit my huis te gaan. My wonde is besig om mooi te genees, maar snags spits ek steeds my ore vir die geringste geluid. Help asseblief!”]
Het jy ook vrees in jou lewe wat jou verlam? Vrees jy vir die toekoms van ons land, dat jy nooit ’n huweliksmaat sal vind nie, dat jy of ’n geliefde met ’n gevreesde siekte gediagnoseer gaan word, dat iets met jou kinders mag gebeur of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou gaan wees? Of vrees jy dat jy jou werk gaan verloor en nie vir jou gesin sal kan voorsien nie?
Vrees is een van die mees effektiewe instrumente wat die vyand gebruik om ons as gelowiges te verlam. Dit laat my kompleet dink aan ’n houer met swart, warm teer wat oor ’n persoon uitgegiet word. Sodra die taai teer droog word, veroorsaak dit dat ’n persoon versteen. Net so maak vrees ons passief. Dit beroof ons van ons lewensvreugde en vrede in ons harte en dit veroorsaak ook dat ons onsself van ander en ook God isoleer. Dit is dus belangrik dat ons nie net vrese sal los nie, maar doelbewus begin om iets daaraan te doen.
Hoekom moet ons ons vrese identifiseer? In 1 Petrus 5:8 lees ons dat die vyand soos ’n brullende leeu rondloop en soek na maniere om ons aan te val. Job was ’n sprekende voorbeeld hiervan. Satan wou hom verwoes, maar geen van Satan se planne het geslaag omdat God ’n muur van beskerming rondom Job, sy familie en ook sy besittings geplaas het (Job 1:10 – 1953-vertaling).
Job het egter een swak punt gehad: Vrees dat sy familie of besittings iets sou oorkom. Satan het dit gesien en toe hy ’n geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy hom geslaan waar dit hom die seerste sou maak (Job 3:25).
In stede daarvan om heeldag oor jou vrese te tob en dit met almal om jou te bespreek, begin om jou gedagtes te vernuwe en jou vrese doelbewus na God te neem. Vra Hom om jou spesifiek in daardie area te versterk. Begin ook om God se beloftes oor die saak te memoriseer en uit te spreek wanneer vrees jou wil oorweldig. Dit is ons ammunisie teen die vyand.
Wat sê die Woord van God oor vreesagtige situasies? Wanneer vrees ons oorweldig, kan ons die vyand herinner aan wat God oor ’n bepaalde saak sê. In Jesaja 54:17 sê Hy byvoorbeeld: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie... Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg…” In Psalm 91:5,7,11 staan geskryf: “Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag. . . Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref (nie). . . Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.”En as jy soos die leser wat die e-pos gestuur het ook vrees om in die nag te gaan slaap, kan jy jouself aan die woorde in Psalm 3:8 herinner: “As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.” God waak oor ons as ons slaap. Hy beskerm ons omdat Hy nooit sluimer of slaap nie (Psalm 121).
Alhoewel vrees dalk nie eensklaps gaan verdwyn nie, kan ek jou waarborg dat as jy jou gedagtes hernu en begin om te praat oor ’n saak soos God daaroor praat, sal jy beleef hoe vrees kleiner word en jou geloof sterker en hoe vrees mettertyd totaal die houvas op jou verloor. Kom ons nader tot God met die wete dat Hy nie net sy engele uitstuur om ons te beskerm nie; Hy plaas ook ’n muur van vuur reg rondom ons, ons geliefdes en ons besittings. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U nooit sluimer of slaap nie. Versterk my asseblief wanneer vrees my wil oorweldig en help om my doelbewus my oë op U gevestig te hou en in geloof op u beloftes te staan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Opmerkingen