NADER TOT GOD IN DIE WERKPLEK
- Lappieskombers
- Feb 19, 2017
- 3 min read

Staan jy op die punt om te bedank omdat jy nie langer jou onregverdige baas of onbeskofte kollega kan verdra nie? Sien jy steeds jou huidige werk as ’n genadegawe uit God se hand of het jy dit as vanselfsprekend begin aanvaar?
Voordat selfone algemeen beskikbaar was, kon ’n apteker op ’n dorpie nie help om gereeld van die gesprekke te hoor wanneer mense by die openbare foon net buitekant die ingang van die apteek gestaan en praat het nie.
Op ’n dag het ’n jong seun se gesprek soos volg verloop: “Hallo Meneer. Ek bel net om uit te vind of die posisie van tuinier steeds beskikbaar is? O, u het reeds iemand? En is u tevrede met sy diens? Goed, baie dankie.” Die apteker het jammer gevoel vir die seun en nader gestap. “Ek is jammer dat jy nie die werk gekry het nie, seun.” Die seun het egter geglimlag en geantwoord: “Nee, ek het die werk gekry. Ek wou maar net seker maak dat hul steeds tevrede is met my diens.”
Hierdie storie het my laat dink: Het jy ook in ’n gemaksone verval in jou huidige pos in die werkplek of is dit steeds vir jou belangrik om jou werk met integriteit en uitnemendheid te doen? Wanneer laas het jy seker gemaak dat jou werkgewer steeds tevrede met jou werk is? Hier is vyf besigheidsbeginsels vir die werkplek uit God se Woord:
BEGINSEL 1: WERK ASOF GOD JOU WERKGEWER IS
Efesiërs 6:6: “Julle moenie net werk wanneer julle eienaars vir julle kyk nie, julle moenie werk sodat mense van julle kan hou nie ... Nee, dit moet vir julle wees soos wanneer julle vir die Here self werk, nie soos wanneer julle vir mense werk nie.” BEGINSEL 2: VRA VIR GOD WYSHEID EN LEIDING
Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee ... ”
BEGINSEL 3: TREE IN ELKE SITUASIE MET INTEGRITEIT OP
Deuteronomium 25:15-16: “As jy lank wil lewe in die land wat jou God die Here vir jou gee, dan moet jy gewigte en mate gebruik wat reg en eerlik is. Want die Here haat dit wanneer mense oneerlik is.”
BEGINSEL 4: MOENIE LUI WEES NIE
Spreuke 14:23: “Wanneer iemand hard werk, dan kry hy baie dinge. Wanneer iemand net praat en niks doen nie, dan bly hy arm.”
BEGINSEL 5: MAAK GOD DEEL VAN JOU PLANNE
Spreuke 16:3: “Jy moet vir die Here vra wat jy moet doen, dan sal jou planne slaag.” Kom ons word vandag opnuut dankbaar vir ons werksgeleenthede terwyl ons onsself herinner dat God ons eintlike Werkgewer is. Kom ons ken Hom in elke besluit sodat Hy ons deur sy Heilige Gees kan lei. En wanneer jy jouself in ’n situasie bevind waarin die pad van korrupsie aanloklik lyk, onthou dat God alles sien. Neem dus besluite wat Hom eer en jou integriteit weerspieël. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir my huidige werk. Help my om te werk asof U my werkgewer is en deurentyd met integriteit en wysheid op te tree. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
GEBED VIR DIEGENE WAT TANS WERK SOEK:
Vader God, baie dankie dat U van my huidige situasie weet. Help my om positief te bly terwyl U my na die regte maatskappy lei waar ek vir werk kan aansoek doen. Seën my met wysheid, selfvertroue en guns wanneer ek vir ’n werksonderhoud moet gaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
댓글