NADER TOT GOD DEUR 'N BESKIKBARE INSTRUMENT IN SY HAND TE WEES
- Lappieskombers
- Feb 24, 2017
- 3 min read

Daar tref een van daardie ongemaklike situasies my die naweek wat ouers te alle tye wil vermy! Na afloop van ’n uitstappie na die winkelsentrum was ek besig om my bykans 2-jarige dogtertjie, Joalé agterin die motor vas te maak, toe ek die motorsleutel op die voorste sitplek neersit om dit nie later te soek nie. Tot op hierdie punt het alles goed verloop. Dit is egter toe ek die deur agter toemaak om voor in te klim, dat die motoralarm meteens self geaktiveer. Dáár staan ek buite die motor sonder ’n sleutel met my dogtertjie agterin!
Terwyl ’n koue rilling van skok en paniek langs my ruggraat afgly het honderde gedagtes deur my kop gemaal van hoe ek die deur gaan oopkry. Ek het selfs oorweeg om die venster te breek. In dié proses het ’n veiligheidswag nadergestaan om hulp aan te bied. Hy het gesê dat hy sy beheerkamer sal kontak van waar hulle dan weer ’n sleutelmaker kan kontak. Dít sou ’n uur neem voordat die man opdaag. ’n Uur was heeltemal te lank vir my aangesien al die vensters van die motor toe was. Ek wou net moed verloor toe ’n logiese gedagte my tref: Praat met jou kind. In my skok en paniek het ek nie eens vroeër daaraan gedink nie! Ek het Joalé se aandag gekry en haar deur die venster stap vir stap beduie hoe sy haarself moes losmaak, vorentoe klim en die knoppie op die alarm van die motor druk sodat die deure kon oopgaan. Ek was lanklaas so verlig as toe ek haar ’n drukkie kon gee!
Dié insident het my ’n geestelike les geleer. Op aarde is ons soos my dogtertjie in die motor. God staan aan die buitekant en hoewel Hy almagtig is en binne oomblikke kan doen wat Hy gedoen wil hê op aarde (net soos ek die sleutelmaker kon kontak of self die venster kon breek), kies Hy om ons as instrumente te gebruik om sy liefde en genade aan die wêreld te demonstreer. Al wat ons moet doen, is om ons ore te spits en gehoorsaam te wees as Hy ons lei om iets te doen. Die vraag is net: Is jy gehoorsaam as Hy jou vandag wil gebruik?
In 1 Korintiërs 3:9 lees ons: “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.” Ook in Romeine 6:13 staan geskryf: “... stel julle in diens van God ... en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.” En in 2 Timoteus 2:20-21 lees ons: “In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.”
Wat vra God vandag vir jou om te doen? Voel dit vir jou asof die opoffering te veel is en of jy twyfel of jy oor genoeg wysheid beskik om ’n projek deur te voer? Onthou, God sal jou ook stap vir stap deur sy Heilige Gees tot by die eindpunt lei. Wees jy net gehoorsaam. Ek is oortuig daarvan dat God ook ’n breë glimlag op sy gesig het wanneer geslote deure op aarde oopgaan omdat sy beskikbare instrumente gehoorsaam was. Sterkte.
Vader God, dankie dat U kies om ons mense as U instrumente op aarde te gebruik om U liefde en genade aan ’n gebroke wêreld te demonstreer. Help my asseblief om gehoorsaam te wees as U my vandag benodig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Comments