Hoop op jou T-Shirt
- Gerda Jansen
- Mar 6, 2017
- 2 min read

Teksvers:
Kol 1:27
Christus is in julle, Hy is julle hoop op heerlikheid
As daar een ou in die Bybel is, wat mismoedig was en rede gehad het om so te voel was dit Job. Hy het als verloor. En hy het die Here oorlaai met vrae van hoekom, maar hy het nie hoop verloor nie. Hy het op God vertrou. Sy vriende het nie allerhande nonsens in sy kop probeer praat nie, hulle het die feite op die tafel gelê van wie God is en wat God gee.
Baie mense dra T-Shirts met ‘n leuse op. ‘n Boodskap wat hul wil oordra. Wat is die leuse op jou T-Shirt? Vertel dit van ‘n Jesus wat hoop gee. As Jesus in jou hart is, is Hy ook die hoop wat jy aan ander moet uitdeel. Wanneer jou pel moedeloos raak en begin praat van selfmooord, wat doen jy? Wel, eerstens gaan jy vir hom bid, met hom praat oor Jesus en die waarhede in Sy Woord en dan gaan jy saam met hom bid. Daar is so baie jongmense wat depressief raak, miskien is jy nou op daardie plek in jou lewe terwyl jy nou hier lees. Ek wil vir jou hoop bring.
Niemand het meer gely as Jesus nie. Die uitkoms was goed. Want God het ‘n Ewige Lewe beplan. En Hy beplan dit vir jou ook. Wil jy self kies wanneer jou lewe tot ‘n einde moet kom? Het jy gedink dat daar mense is wat jou liefhet. Jy voel dalk dat hul dit nie wys nie. Maar weet ook dat God jou liefhet. Hy weet jy het seergekry. Hy weet ook dat jy nie die volle prentjie nou sien nie. Hy wil jou hoop wees.
Vandag wil Hy jou trane in blydskap verander. Fokus op die goeie in jou lewe, dinge waarvoor jy dankbaar kan wees. God het ‘n toekoms vir jou, ‘n verwagting. Hy wil iets in jou inbou waarna jy kan uitsien, waaroor jy opgewonde kan wees. Dra ‘n boodskap van hoop. Wees jy die voorbeeld, net soos Jesus. Jy het hom in jou, jy het Hom verniet gekry, deel Jesus ook nou uit aan ander.
Opmerkingen