God naby my
- Gerda Jansen
- May 8, 2017
- 2 min read

Teksvers:
Jak 4:8
Nader tot God en Hy sal tot julle nader.
God het my en jou gemaak vir ‘n verhouding. Dat ons saam met Hom sal leef, in ‘n noue verbintenis. Wanneer jy ‘n leegheid binne jou ervaar is dit baie keer omdat jy ver van God is, jou siel soek God. Want jy is bedoel om naby Hom te wees. Hy het jou so gemaak.
Om in ‘n verhouding met God te staan, beteken ons praat elke dag, soms heeldag met mekaar. Ek met Hom in gebed en Hy met my deur Sy Gees direk of deur ander mense, of deur Sy Woord. Want net so veel soos wat ek met Hom wil praat wil Hy ook met my praat. Ek deel alles met Hom, ek kan met Hom praat oor als wat my pla, wat my drome en wense is. Ek vertrou Hom. Hy is altyd by my.
Ons lewe in ‘n wêreld vol geraas, van die TV tot selfone en rekenaars. Wanneer is daar stilte in ons lewens? Maak ons tyd vir daardie stilte? Jy hoor skaars wat jou ma vir jou deur die toe deur van jou kamer wil sê, is daar plek vir God om te praat? Enige verhouding word gebou op kommunikasie. Op vertroue en liefde. Maak jy tyd en plek vir dit saam God? Ek is lief vir God daarom wil ek tyd saam met Hom spandeer. Ek gaan uit my pad uit om meer van Hom te leer, deur my Bybel te lees en kerk toe te gaan. Jy wil mos die een ken met wie jy in verhouding staan.
Hoeveel boodskappe sal jy op een dag stuur vir die ou of meisie van wie jy hou? Jy wil elke oomblik saam met daardie persoon wees. Hande vashou, hul hartklop fisies en geestelik hoor. Ek wil hoor hoe God voel, wat Hy wil hê ek moet doen. Ek vertrou Hom in elke situasie. Ek gee dit vir Hom, en Hy sal dit uitsorteer.
Dis ‘n liefdesverhouding. Omdat Hy my liefhet, is Jesus dood aan ‘n kruis en het Hy weer opgestaan. Dis liefde. Dis genade. Niemand kan jou ooit so liefhê soos Hy nie. Hy ken jou op jou naam. Jy is vir Hom kosbaar en spesiaal.
Kies om naby God te leef deur meer tyd saam met Hom te spandeer.
Comments