Niks belangriker as God
- Gerda Jansen
- May 22, 2017
- 2 min read

Teksvers:
Eks 20:4,5
Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak
van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder
of in die water onder die aarde is nie.
Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God,
eis onverdeelde trou aan My.
Hierdie was ‘n wet wat God vir Moses laat opskryf het, dit was waar vir die Israeliete en ook vir ons vandag. God is steeds dieselfde God as die God van die Isrealiete. Hy het ons gemaak om Hom alleen te dien.
Nebukadnesar het ‘n goue beeld gemaak, almal was beveel om hierdie beeld te aanbid. Vandag is daar nog gelowe wat beelde aanbid. Maar hier is die kruks vir my en jou: afgode is enige iets wat belangriker vir jou geword het as God.
Hoe belangrik is jou meisie of ou vir jou, jou tablet, enige besittings, geld, sport of kultuur? Hoeveel van jou tyd spandeer jy hieraan? Staan dit in die pad van jou bybelstudie tyd?
Ek hoor baie jongmense kla dat hul nie tyd het om te bid en bybel te lees nie, hul skedule is net te vol. Ek verstaan die druk is hoog. Maar is dit als die moeite werd. Gaan enige van dit jou plek by God verseker na hierdie lewe?
God wil tyd saam met jou spandeer en Hy wil nommer 1 in jou lewe wees. Dit is Sy plek. Dit beteken ek gaan na Hom toe as ek probleme het, wanneer my hart seergekry het en wanneer ek opgewonde is oor iets.
Dis dalk tyd om bietjie te sny aan die tyd wat jy voor die televisie spandeer of op sosiale media. Wanneer niks vir ons belangriker is as God nie, is Sy Woord ons riglyn en volg ons God se woord in alles wat ons doen. Ons sal niks wil doen wat Hom kwaad of hartseer sal maak nie. Wat vir Hom saak maak, maak ook vir ons saak. Kom ons maak God ons eerste prioriteit, sodat ons die Goeie vrugte van die Gees kan dra.
Comments