Wonderwerke
- Gerda Jansen
- Jun 12, 2017
- 2 min read

Teksvers:
Hand 19: 11
God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen.
Jesus het wonderwerke gedoen toe Hy op aarde was. Die Heilige Gees was in Paulus en God het hom gebruik om wonderwerke te doen. God doen vandag nogsteeds wonderwerke. Party mense glo dit nie, wanneer iets ‘amazing’ gebeur soos iemand wat gesond word, het hul allerhande redes behalwe om God die eer daarvoor te gee. Mense wil nie erken dat God steeds hierdie dinge doen nie.
Ek het met my eie oë gesien en gehoor hoe God genesing gebring het. Hoe dowes hoor, blindes sien, siekes gesond word. Hoe mense in ‘n noodsituasie was en God hul gered het. Dit is goed wat gebeur wat nie eens verduidelik kan word nie. Dit klink nie ‘real’ nie. Want dis wat groter is as wat ons kan verstaan of wil glo.
God gebruik gewone mense wat glo en wat bereid is om vir Hom te werk. Sy Gees is vir ons almal daar. Soos Paulus kan ons wonderwerke doen as ons glo, nie uit ons eie krag nie, maar deur Sy Gees in ons.
Het jy beleef hoe God ‘amazing’ dinge in jou lewe doen? Soms is dit klein dinge wat vir ander nie só wonderlik lyk nie, maar jy weet net dit was God se werk. Toe jy nie geld gehad het nie, en nodig gehad het, en daar net iewers iemand vir jou geld gegee het sonder dat jy gevra het. Toe jy in ‘n gevaarlike plek was, en jy daar uitgekom het sonder dat daar iets met jou gebeur het. Dis God se beskerming.
Hierdie is als wonderwerke. Maar ons wil dit maklik afmaak as ‘per toeval’. Ek glo nie in toeval nie. Wanneer iemand in my lewe kom, wat my lewe verander en mooi en vol maak weet ek, dis nie toeval nie. Dis genade. Wat is genade? Iets wat ek nie verdien het nie. Dit kom net van God af.
Wanneer ons nie God wil erken in ‘n uitkoms nie, kan ons nie sê ons glo nie. As ons bid, en nie ‘n verwagting het van ‘n wonderwerk nie, het ons nie geloof nie. Sal dit waarvoor ons vra ook nie gebeur nie. Onthou jy vir Petrus op die water? Hy moes glo al was die see se golwe woes om hom. Wat daar gebeur het, was ‘n wonderwerk, maar toe hy begin bang word en twyfel toe begin hy sink. Glo en vertrou God vir daardie wonderwerk wat jy nodig het in jou lewe.
Comments