Dis nou of nooit
- Gerda Jansen
- Jun 26, 2017
- 2 min read

Teksvers:
Gen 25:8
Hy was oud en gedaan toe hy die dag dood is. Sy lewensjare was vol mooi ervarings. Toe hy dood is, is hy by sy mense begrawe.
Jy het een kans. Jy het een lewe. Nie ek of jy weet wanneer ons doodgaan nie. Dis nie ‘n dag om voor bang te wees nie. God is in beheer. En wanneer ons elke dag leef asof dit ons laaste is, ons alles gee; weet ons dat ‘n Ewige Lewe vir ons wag. Ek wil nie my eie lewe korter maak nie, ek wil nie my eie lewe vat nie. Want ek wil in God se wil lewe. In moeilike tye byt ek vas, vertrou ek op God. Ek gee my heel beste. Want vandag is dalk die dag wanneer Jesus terugkom, of wat Hy my kom haal.
Abraham het ‘n vol lewe gehad, hy het mense se lewens aangeraak, hy het ‘n verskil gemaak. Jesus, ons perfekte voorbeeld het hier op aarde sy alles gegee vir ander.
Tot die dood was Hy getrou en gehoorsaam aan God. Hy was nie selfsugtig en net oor homself ge’worry’ nie.
Is jou lewe ‘n voorbeeld? Gee jy elke dag jou beste? Is jy besig om net te probeer ‘survive’ of lewe jy voluit? God het ‘n doel met jou lewe. Hy het ‘n plan. Jy moet by Hom gaan hoor wat is dit wat Hy wil hê jy moet doen. Weet een ding. Ons is hier op aarde om Hom te dien, om te glo en ‘n verskil te maak in ander mense se lewens.
Ons is gemaak om Sy woord te verkondig. Jy kan nie langer net stilbly nie. Jy kan nie wegkruip in jou omstandighede nie. Jy kom dalk nie uit die perfekte gesin nie, julle kry swaar, jou ouers nie die wonderlikste voorbeeld nie. Maar jy het steeds ‘n keuse.
Kies jy om alles en almal te blameer vir jou omstandighede? Bly jy vasgevang in die ‘nou’? Of fokus jy op God en dit wat Hy vir jou het?
Die dag wanneer jy nie meer lewe nie en daar word begrafnis gehou, gaan mense kan vertel van jou lewe as voorbeeld? of gaan daar net slegte goed vertel word? of dalk net niks gesê word nie? Want daar is nie juis veel om te sê nie. Los ‘n merk, dis nie te laat nie. Lewe jou lewe voluit.
Comments