Selfs wanneer dit goed gaan
- Gerda Jansen
- Oct 16, 2017
- 2 min read

Fil 4:4 –
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Ek wonder of dit soms nie makliker is om die Here te loof en te prys wanneer dit sleg gaan nie. Dan is dit asof mens op jou knieë bly. Jy bid meer in die moeilike tye. Maar wat van die goeie tye? Paulus wil ons aanmoedig om bly te wees in die Here en Hom te dien en te aanbid in alle omstandighede. Of dit nou goed of sleg gaan. Ek kan jou vra: Wie laat goeie goed met jou gebeur? God. Gee ons Hom altyd die eer wanneer ons byvoorbeeld vir die span gekies word? Of dink ons dit is omdat ons so oulik is? Alles wat ons is en alles wat ons het, kom van Hom af. Hy is God en Hy is in beheer. Niks gebeur sonder Sy wil nie. Dan moet ek mos dankbaar wees wanneer dinge vir my uitwerk en nie dan van God vergeet nie. Of net eers weer begin bid wanneer dit weer sleg begin gaan nie. Wanneer dit goed gaan, en ek God aanbid in daardie tyd en Hom die eer gee, sal mense sien wie in beheer is van my lewe. Dit is ‘n kans wat ek en jy het om te getuig van God se liefde en wie God is en wat Hy vir ons beteken. Erken God in jou lewe en Loof en Prys Hom in die goeie tye. Hy is dit werd. Daar is nie ‘n prys daaraan gekoppel hoeveel Hy jou liefhet en Sy vergifnis nie. Moet dan ook nie ‘n tyd of rede koppel aan jou aanbidding vir Hom nie. Dien Hom altyd. Laat jou blydskap duidelik wees teenoor God. Moenie ophou om dankie te sê nie.
Comments