Eerlik met God
- Gerda Jansen
- Nov 6, 2017
- 2 min read

Job 7:20 –
As ek gesondig het, wat kan ek teen U uitrig, U wat die mens gedurig oppas? Waarom het U my U teiken gemaak? Waarom moet ek vir U ‘n las wees? Job was eerlik met God oor hoe hy voel en wat hy dink. Hy het glad nie daarvan ‘n geheim gemaak nie. Hy het vir God vrae gevra oor sy omstandighede. Hy was moedeloos en raadop. Hy kon nie verstaan hoekom al die slegte goed met hom gebeur nie. Hy het niks vir God weggesteek nie, want hy het geweet dat God hom ken, sy hart en sy gedagtes. Ons kan vir mense goed wegsteek maar nie vir God nie. Hy is ons Skepper, en in verhouding met Hom kan ons eerlik wees. Kan ons met ‘n eerlike en opregte hart ons gevoelens en gedagtes deel. God sal jou nie oordeel nie, ek dink inteendeel dat dit meer beteken dat jy juis jou hart uitstort. ‘n Mens voel ook beter wanneer dit uit is, praat dan voel jy beter, huil dit uit as jy moet. Daarin sal daar ook vir jou genesing kom. Dit is beter as om stil te bly of om te maak asof niks fout is nie. Sy arms is altyd gereed om jou te ontvang om te luister wat jy vir Hom wil sê. Wanneer jy swak is, is Hy sterk en kan Hy jou weer oprig en kan jy wegstap met vrede in jou hart. Dis nie die moeite werd om met God voor te gee nie. Hy weet wanneer jy jok en nie opreg is nie. Word dan kwaad, sê jou sê…maar hardloop eerder na Hom toe as wat jy met wroeging en haat rondloop.
Comments