Deel van ‘n span
- Gerda Jansen
- Dec 4, 2017
- 2 min read

Hand 11:25,26 –
‘n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het ‘n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem. Dit is harde werk om vir God se koningkryk te werk. Dit vat baie uit ‘n mens uit, jy word veral emosioneel en geestelik moeg. Daarom is dit belangrik dat ons onthou dat God ons as ‘n gemeenskap van gelowiges saamgesit het. Die ou of meisie langs jou is deel van jou familie in Jesus en ons moet mekaar help. Ons moet vir mekaar bid en saam uitreike doen om mense van Jesus te vertel. Dit is nie God se hart dat ons dit alleen moet doen nie. Ons is almal deel van ‘n liggaam, ‘n span. Kan die netbal of rugbyspan speel sonder al die spelers? Nee, dit gaan nie werk nie. Kyk om jou rond en soek vriende wat jou kan help om dit te doen wat die Here jou voor geroep het. Die vyand gaan jou probeer aanval en afbreek en moeg maak, maar jy het eerstens Jesus aan jou kant wat klaar die vyand oorwin het, en jy het ander Christene om jou om jou op te bou. Ons werk baie meer effektief ook as ons twee of meer is, want die ander het idees waaraan jy nie gedink het nie. Ons het sterk en swak punte en as jy dit raaksien, besef jy dat jy ander se hulp nodig het. As ons hardkoppig is en dinge op ons eie wil doen of net op ons manier kan ons dinge vir onsself baie moeiliker maak en kan ons dalk langer vat om ons einddoel te bereik. Bring die Goeie Nuus van Jesus met ‘n “army” wat saam met jou die goeie “fight” sal “fight”.
Comments